Trou-tradisies met al hul tierlantyntjies, honderde gaste en deftige spoggerigheid is só pre-pandemie.
’n Pandemie waarborg tragedie, tog bied dit ’n vars oorsig oor maniere waarop bruidspaartjies gedwing word om “dit wat saak maak” op hul groot dag te herevalueer.
Paarl Post het venue-eienaars, troufotograwe en stiliste genader om uit te vind presies hoe die pandemie die troubedryf verander het.
Susanna Tecklenburg van Oude Wellington Restaurant het al talle troues net buite die dorp aangebied.
“Bruidspaartjies het beslis ’n nuwe geneigdheid getoon om hul troues kleiner en meer intiem te hou. Minimalisme is die troue-modegier.”
Sy glo paartjies verkies dié beperkte feesvierings omdat dit hulle die ruimte gun om die kuier met hul naaste vriende en familie werklik te koester.
“Daar is al hoe meer venues wat dit as standaardpakket aanbied om minimalistiese troues te akkommodeer. Ons het juis ’n nuwe venue genaamd Vir Altyd bekend gestel vir troues van 20-60 gaste.”
Susanna gesels oor die moeitelose natuurskoon wat al hoe meer vereis word en dat selfs die alkoholiese standaarde begin verander.
“Daar is meer bruide wat eerder natuurlike, sagte en vloeibare rokke bo die over-the-top prinsesrokke verkies. Ons kry ook meer versoeke vir nie-alkoholiese verversings wat die norm uitdaag en ’n mens leer hoe om te speel met mocktails en slushies om dit festive te maak.”
Nicola Kaden glo weer dat minimalisme oor die algemeen ’n modegier is wat nie juis uit die pandemie spruit nie. “Die pandemie het dit beslis in die troubedryf beklemtoon.”
Sy is die bestuurder en stilis van die trou- en onthaalstileringsmaatskappy Goeters op Wellington.
Gedurende die afgelope seisoen, sê Nicola, was sy meer bedrywig as ooit tevore.
“Ek het ’n belaglike statistiek raakgelees dat daar 3,7 miljoen troues wêreldwyd vanjaar beplan word.”
Sy en Susanna getuig albei van die swaarkry agter die pandemie wat vele ondernemings binne hul bedryf gedwing het om hul deure te sluit.
“Dit het veroorsaak dat daar baie meer samewerking en vertroue onder oorblywende ondernemings en verskaffers heers. Ek glo dit kom van hoe elkeen deur ’n rowwe tydperk is, waar ons besef net hoe vinnig tye baie bitter kan word,” meen Nicola.
Intieme troues is vir haar ook ’n toenemende verskynsel.
“Daar is ietsie spesiaals wat ook gebeur. Deesdae is bruide so spaarsamig as moontlik en dit verg nuwe kreatiwiteit.
“Dit is ook verfrissend om toenemende samewerking onder bruide en hul naastes te beleef waar almal aan die beplanning en mooimaak van die onthaal deelneem.”
Vir Nicola as koördineerder van so ’n geleentheid gee dit ’n gevoel van spanbou en betrokkenheid.
“Voorheen het bruide eenvoudig teruggesit en net op die groot dag opgedaag.”
Stefan en Gardi Louw van Koringkriek Photography is ’n egpaar wat die sentimentele prag van talle bruidspaartjies in die Boland jaarliks vasvang.
“Troues begin om weer toenemend groot samekomste van gaste te toon, maar die opsie van kleiner troues word beslis meer oorweeg as ooit tevore,” vertel Gardi.
Stefan het nou weer ’n verskynsel waargeneem wat alles behalwe intiem is. “Soen-groet en fisieke gelukwense het so te sê verdwyn, wat taamlik opmerklik is.
“Die venue-kostes het oor die algemeen duurder geword, so ons het al vele troues gedek wat by restaurante gehou word. Restaurante se venuekostes is laer en die gaste bestel sommer van hul spyskaarte af,” het Gardi bygevoeg.
“Tuintroues is ook ’n toenemend algemene verskynsel wat nogal geensins vreemd voel nie. Elke paartjie het deesdae die vrymoedigheid om die dag te vier nes hulle dit persoonlik en finansieel verkies.”





