Dit is nie elke dag dat jy ’n seun teekom wat ’n talentvolle trompoppie is nie, en Paarl se eie Quiwin Maasdorp is ’n trotse kampioen in dié sport.
Dié 16-jarige is een van vele trompoppies wat Suid-Afrika vanjaar by die International Association of Majorette-Sport (IAM) -kampioenskap in Augustus in Kroasië sal verteenwoordig.
“Die opgewondenheid het nog nie begin inskop dat ek volgende maand oorsee gaan nie. Toe ek uitvind dat ek gekies is vir die SA span was dit vir my ’n bietjie nerve wrecking.”
Quiwin, ’n gr. 11-leerder aan New Orleans Sekondêr, vertel dat hy die afgelope vier jaar betrokke is by trompoppies en dat hy glad nie spyt is oor sy besluit nie. Hy is lid van die plaaslike groep CJP Majorettes.
“Ek het gesien ’n seun neem deel aan die sport en toe probeer ek dit ook doen. Dit het gelyk asof hy dit geniet en toe besluit ek om na die oefening te gaan en toe probeer ek dit ook. Dit is waar ek nuwe vriende gemaak het, geleer het hoe om leiers te volg en so aan. Na my mening het dit ook vir my geleer hoe om vroue te respekteer, veral omdat ek soms die enigste seun is by die oefening. Daar is nog seuns wat trompoppies is.”
Vir Quiwin bied die geleentheid ook die kans om die eerste keer oorsee te reis.
“Aan die een kant voel ek bang, want ek weet nie wat kan gebeur nie. Soos in die movies, dan sien ’n mens hoe die vliegtuig uit die lug val. Dis sulke goed wat ’n mens ook bang maak,” sê Quiwin effens skaam.
Yolanda Maasdorp sê sy is baie trots op haar seun en dat hy so hard gewerk het om so ver te vorder in die sport.
“Toe hulle by ’n vorige federasie deelgeneem het aan trompoppies, toe kon die seuns nie op hul eie optree nie – hulle moes met meisies optree. Toe het ons oorgegaan na die ander trompoppie-federasie en van daar af was Quiwin ’n gouemedaljewenner by elke optrede.
“Verlede week toe hy teruggekom het van die nasionale trompoppie- kompetisie wat in Wynberg plaasgevind het, het hy vyf goue medaljes saamgebring en twee silwermedaljes.”
Die nasionale kompetisie staan bekend as The Federation of Drill Dance, Cheerleading and Majorette Sport South Africa (FDDCMSA)-nasionale kompetisie. Dit is ook die federasie waarvan Quiwin en sy span deel vorm.
“Hy was lid van daai trompoppies wat verlede jaar Pole toe moes gegaan het, maar toe kon hulle nie gaan nie as gevolg van die oorlog [tussen Oekraïne en Rusland].
“Ons het nie eintlik sponsors vir die sport nie. Ons het maar nou sy Kroasië-geld ingesamel deur fondsinsamelings te hou by die huis. Elke kind moet R36 500 insamel om saam te gaan. Op die oomblik het ons reeds R30 000 ingesamel.”
Maasdorp vertel dat haar elfjarige dogter, Aqeelah, ook ’n kranige trompoppie is wat ook onlangs haar SA kleure by die nasionale kampioenskap gekry het. Aqeelah is ook veronderstel om vanjaar aan die IAM-kampioenskap deel te neem, maar sy het besluit om eerder nie te gaan nie.
“Aangesien dit te veel geld is vir hulle al twee saam vir die jaar om te gaan, het sy besluit Quiwin moet maar eerste die jaar gaan en dan gaan sy maar volgende jaar Augustus na dieselfde kampioenskap wanneer dit in Nieu-Seeland aangebied word.
“By die nasionale kampioenskap het sy ook een goue medalje gekry, twee silwer en een bronsmedalje.”
Maasdorp voeg by hulle is besig om die laaste paar duisend rand in te samel voordat Quiwin middel Augustus vertrek.
Intussen is ook ’n BackaBuddy fondsinsameling vir Quiwin gestig. Die webskakel na sy BackaBuddy-blad is https://www.backabuddy.co.za/quiwin-maasdorp.





