Foto ter illustrasie.Foto: Pexels


Die klokslag-roetine van die Drakenstein-korrektiewe-sentrum is erg ontwrig toe vier tronkbewaarders vanoggend (Woensdag, 8 Februarie) deur vyf gevangenes aangeval is.

Die departement van korrektiewe dienste (DKD) kan dié ontstellende voorval by Drakenstein-korrektiewe-sentrum, tussen Paarl en Franschhoek, bevestig.

“Vyf gevangenes het vier korrektiewe amptenare met selfgemaakte skerp voorwerpe gesteek,” sê die departement se nasionale woordvoerder, Singabakho Nxumalo.

Hierdie voorval het tydens oopsluittyd plaasgevind en minimum geweld moes gebruik word om die aanval te stop.

Al die betrokkenes is hospitaal toe geneem vir behandeling.

Die aard van beserings is nog nie aan Paarl Post bekend nie.

Die Paarl-polisie woordvoerder, kapt. Louise du Plessis sê hulle was eers in die namiddag ure in kennis gestel van die voorval wat vanoggend agter die geslote hekke van die gevangenis plaasgevind het.

“Polisiemanne was eers sowat 16:00 na die toneel by die gevangenis ontbied. Dit is nog nie seker wie die klaer in die saak is nie, wat beteken dat ’n klag nog nie bekend is nie,” vertel Du Plessis.

‘n Volledige ondersoek sal deur die DKD sowel as Paar-polisie ingestel word.

Nxumalo sluit af dat die departement hoogs ontsteld is oor sulke voorvalle waar gevangenes blatante disrespek vir die wet toon en spog om amptenare weens onregmatige redes aan te val.

Die Drakenstein-gevangenis is ’n hoë-sekuriteit gevangenis tussen Paarl en Franschhoek, op die R301-pad in die vallei van die Dwarsrivier in die Wes-Kaap. Dit was voorheen bekend as Victor Verster-gevangenis, vanaf waar Nelson Mandela na vryheid gestap het op 11 Februarie 1990 na 27 jaar van gevangenisskap.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article