Die opgewondenheid van vier trompoppies van die Paarl is onlangs gedemp deur die nuus dat hul reis na Pole gekanselleer is.
Quiwin Maasdorp, Jayde-Lee Solomons, Hildene Johnson en Courtney Williams sou Suid-Afrika, as deel van die nasionale span, by die wêreld-trompoppiekampioenskap oorsee verteenwoordig het.
Die organiseerders was verplig om die kampioenskap te kanselleer as gevolg van die voortslepende oorlog tussen die Oekraïne en Rusland.
Al vier trompoppies is lid van die plaaslike groep CJP Majorettes. Een van hul afrigters, Jamy-Lee Paulse, sê hoewel Quiwin, Jayde-Lee, Hildene en Courtney baie na die kampioenskap uitgesien het, is die besluit geneem met die deelnemers se welstand en veiligheid in gedagte as ’n topprioriteit.
“Hulle is wel teleurgesteld, maar soos ek sê – veiligheid kom eerste. Ons moet dink aan hul veiligheid met die oorlog, wat nou net erger raak en nog nie verby is nie. Ja, dit is ’n once in a lifetime opportunity, maar wat help dit as iets met hulle gebeur? So, ons hou maar duime vas en hoop nou vir die beste.”
Die goeie nuus is dat vanjaar se nasionale span toegelaat sal word om saam met volgende jaar se span te toer en by die kampioenskap op te tree.
“Hulle gaan dan weer deel wees van die span vir volgende jaar en dan saam met die 2023-span na die volgende kampioenskap toer. Ons wag nog vir ’n finale antwoord of besluit wat geneem word, en dan gaan ons vorentoe beweeg daarmee.”. The excitement of four majorettes from Paarl was recently dampened by the news that their trip to Poland for the World Majorettes Championship has been cancelled.





