’n Noodlottige padongeluk het op 13 Julie Munyaradzi Mangezi (29) se lewe tydens ’n trompop-botsing op die Jan van Riebeeck-rylaan geëis waar hy toe doodgebrand het.
Volgens kol. Johan Barkhuizen het die botsing omstreeks 21:00 gebeur toe ’n Volkswagen Polo en ’n Tata teen mekaar gebots het, waarna die Tata aan die brand geslaan het.
Die botsing het tussen die vierrigting-stop by die Diemersfontein-wynlandgoed en die vierrigting-stop by die Welgeleë Plein-winkelsentrum in Wellington plaasgevind.
Volgens ’n ingeligte bron het Mangezi as ’n kosafleweraar gewerk waarna hy in die Tata-voertuig op pad terug na Wellington gery het nadat hy ’n wegneemete afgelewer het.
“Die Tata het pizza gaan aflewer [en] Mangezi was op pad terug na [sy] werk [in Wellington].”
Volgens die bron het die Volkswagen Polo van Sjampanjestraat in Wellington se rigting na die vierrigtingstopstraat by die Welgeleë Plein gery, waarna die motor links in Jan van Riebeeck-rylaan (na die Paarl) ingedraai en in die aankomende verkeer se baan gery het.
Omdat die Volkswagen Polo in die aankomende verkeer se baan was, het die motor toe teen die Tata gebots.
Die Polo het vyf insittendes gehad, wat almal oorleef het, volgens Barkhuizen.
“Die [Volkswagen Polo] was vol drankbottels en [het] gestink na drank,” het die ingeligte bron vertel.
“Volgens die waarneming op die toneel het die Volkswagen Polo in die pad gestaan (rigting Wellington vanaf Paarl), terwyl die Tata van die pad af op ’n stuk grond gestaan het,” het Barkhuizen bevestig.
“Ek kan nie uitlatings maak of die bestuurder onder die invloed was nie, [maar kan] wel [bevestig] dat daar drank in die motor was,” het hy gesê.
Die Paarl Post het uitgereik na drie omstanders wat Mangezi uit die brandende wrak probeer red het. Omdat sy been in die motor vasgepen was, kon hulle nie daarin slaag nie.
Volgens Brendan Morris, Morné Isaacs en Jeide Ruiters het die rugbywedstryd tussen die Springbokke en die Iere net tot ’n einde gekom toe iemand hulle kom roep en sê “dat daar ’n ongeluk was”.
Die drie vriende het toe inderhaas uit die huis na die ongelukstoneel gehardloop, waar hulle Mangezi in die brandende Tata gewaar het.
Morris, Isaacs en Ruiters het sowat vyf minute ná die botsing op die toneel aangekom, waarna hulle Mangezi uit die Tata probeer bevry het.
“Hy [Mangezi] was bewusteloos. Ons weet nie of hy toe al oorlede was nie, maar hy was nie by sy volle bewussyn nie.”
Die drie Newton-inwoners kon die oorledene egter nie red nie, aangesien sy been in die motor vasgepen was.
“Ons het teruggehardloop huis toe om ’n brandblusser te kry, maar dit het te erg gebrand en die brandblusser was nie genoeg nie.”
“Die bestuurder van die ander motor [Volkswagen Polo] het ons gesien en het in die kar beweeg.
“Die mense het net gestaan en niemand het niks gedoen nie; dis hoekom ons besluit het om te help.”
Volgens hulle het die ambulans ongeveer vyf minute ná hulle by die ongelukstoneel aangekom.
Nadat die nooddienste opgedaag het, is die vyf oorlewendes na die Paarl-hospitaal geneem.
Dit is tans onbekend watter beserings die oorlewendes opgedoen het.
Volgens Barkhuizen ondersoek die Wellington-polisie tans die voorval, met geeen inhegtenisnames wat al gemaak is nie.
Volgens Mangezi se Facebook-profiel is hy van Harare in Zimbabwe en het in Wellington gewoon.
Die Paarl Post se pogings om na sy familie uit te reik, was onsuksesvol.
- In ’n onverwante saak is ’n man op 7 Julie in New Orleans in Paarl-Oos doodgery. Die oorledene en sy meisie het iets gaan koop om te eet, waarna die man op pad huis toe doodgery is. Sy meisie het toe glo van die ongelukstoneel af weggehardloop. Volgens die oorledene se familie kry hulle nie die meisie óf die motorbestuurder in die hande nie. Die familie vra enigiemand met inligting om die Paarl-Oos polisie in kennis te stel.





