Dié vragmotor het vandeesweek groot vertragings veroorsaak toe dit die Bainskloofpas onwettig aangedurf en uiteindelik vasgesit het.Foto: Facebook

Credit: SYSTEM

’n Swaarvragmotor met ’n sleepwa moes 3 km in trurat uit die Bainskloofpas buite Wellington ry nadat dit Maandagoggend in die pas vasgesteek het.

Jandré Bakker, die departement van vervoer en openbare werke se woordvoerder, sê ’n stop-en-ry-stelsel is gebruik om ander verkeer kans te gee om te ry. Sodra ’n paar voertuie deurgelaat is, is die pad weer gesluit sodat die vragmotor verder agteruit uit die pas kon kruip.

Die situasie het tot 17:00 die middag voortgeduur toe die pas weer vir gewone verkeer oopgestel is.

“ ’n Voorlopige ondersoek het bepaal dat ’n 26-wiel-swaarvragmotor in die pas vasgesit het. Borde is op die pas aangebring, wat die hoogte- en lengtebeperkings duidelik aandui. Dit blyk dié beperkings is geïgnoreer.”

’n Ondersoek moet nog bepaal presies hoeveel skade deur die vragmotor aan die pad aangerig is.

“Sodra die skade bepaal is, sal moontlike boetes of eise teen die maatskappy waaraan die swaarvragmotor behoort, ingedien word,” verduidelik Bakker.

Die omstandighede rakende die voorval het gelukkig geen gespesialiseerde hersteltoerusting genoodsaak om die vragmotor uit die pas te verwyder nie. Bakker sê dit sou tot nóg meer vertragings gelei het.

Dié voorval volg slegs twee weke nadat die pad ná uitgebreide herstelwerk op 15 Junie heropen is.

“Dit is nie ’n gereelde verskynsel in die Bainskloofpas nie, aangesien padgebruikers in die algemeen die padtekens en beperkings respekteer.”

Die pas was sedert 2018 ontoeganklik vir openbare vervoer toe herstel- en opgraderingswerk gedoen is. Die departement het destyds die tender aan ERO Engineers toegeken.

Bakker sê die werk het sypaadjieverbeterings, verseëlwerk en herstel en dreinerende sykanale wat verbreed is, behels. “Veiligheidsverbeterings is aan die messelwerk-muur en steenrotse op skerp afdraandes gedoen, terwyl sommige hellings gestabiliseer is.”

Die Bainskloofpas is ’n nasionale monument. Die pas het talle breedte- en hoogtebeperkings en loop boonop deur ’n natuurreservaat.

  • A 26-wheeler interlink heavy vehicle got stuck in the Bainskloof Pass on Monday, approximately 3 km from Eerste Tol. Normal traffic was restored around 17:00 after stop-and-go points were used to allow the truck to reverse out of the pass. Fines or claims due to damages may still be considered once an assessment has been completed.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article