Die Mitsubishi Triton Extreme slaan jou voete onder jou uit. Foto: Lise Beyers



Vandat ek kan onthou, het twee fabrikate hulself as dié bakkie vir Suid-Afrikaanse paaie beskou, en dié name waarmee ek grootgeword het, was Isuzu en Toyota.

Hoewel die Mazda’s, Datsuns, Fords en Peugeots ook gewild was, was die breëbors brandewyn-en-Coke-manne van mening dat dit óf ’n Toyota óf ’n Isuzu is wat op hul plaas hoort.

En ek het hulle geglo.

Ek is onlangs die Mitsubishi Triton Extreme aangebied om te toetsbestuur en ek moet eerlik wees, ek het eers gedink: maar wat weet Mitsubishi van bakkies af?

Wel, om die waarheid te sê, die Triton Extreme het werklik ons voete onder ons uitgeslaan.

Met die eerste oogopslag is die Mitsubishi Triton Xtreme ’n baie aantreklike 4×4-dubbelkajuit-bakkie wat ’n avontuurlike leefstyl steun. Dis ’n bakkie wat nie net reg is om hard te werk nie, maar ook die langpad van enige omstandighede aan te pak.

Dit is ’n praktiese voertuig, met al die nodige bells and whistles, maar nie die onnodige tierlantyntjies wat soveel nuwe voertuie het wat maar uiteindelik net ’n aap in ’n aandpak is nie.

Ek en my mede-bestuurder het die Triton Extreme op ’n goeie toetsrit geneem – van Ceres op die berugte bandevreter-pad, die R355, oftewel die Tankwa Karoo-pad, daarna afgedraai deur die Tankwa Nasionale Park en teen die beeldskone Gannagapas op. Van daar af is ons na Middelpos op ’n baie erg verspoelde pad nadat die gebied genadiglik goeie reën gekry het.

Van dié gehuggie was die grondpad beter na Calvinia, en tussen daar en Nieuwoudtville het ons na Clanwilliam deur die Botterkloofpas afgedraai.

Ons volgende stop was die Biedouwvallei en verder na Wuppertal, waar die pad werklik uitdagend raak op die baie nou, enkelspoor-paadjie wat teen die Cederberg tot in die Sandveld bo strek. Van Eselbank tot by Matjiesrivier was die pad baie erger as wat ek dit nog gesien het, maar uiteindelik raak die grondpad mooi in die rigting van Ceres.

Die langpad en kortpad van hierdie storie is dat ons op ’n groot verskeidenheid paaie gery het – van streng 4×4- tot uiters klipperige roetes, dan weer sanderig en deur water, en natuurlik ook teerpad.

Die Triton Extreme het hierdie paaie sonder huiwer of gesukkel kafgedraf, en vir die bestuurder was elke stuk pad ’n ware genot – soveel so dat my medebestuurder al vroeg op die langpadrit geweier het om die stuur aan my te oorhandig, so lekker ry sy, en ná ’n dag se ry het sy erken dat sy smoorverlief op die Mitsubishi Triton Extreme geraak het.

En dit kom van ’n plaasmeisie wat deur die jare bederf is – juis met Toyota-, Isuzu- asook Ford-bakkies.

Maar kom ons kyk ’n bietjie nader wat hierdie pragtige ryding bied:

Meer as taai verfyn

Onder die enjinkap pronk ’n MIVEC-turbodieselenjin van 2,4-liter, wat goeie diens lewer en 133 kW en 430 Nm bied. Dit is eintlik moeilik om te glo dat die Triton Extreme deur net ’n 2,4 F-enjin aangedryf word, want sy krag voel baie meer.

Die Super Select II 4WD-stelsel bied ’n keuse van voltydse vierwielaandrywing met hoë- en laestrek en ’n middelewenaar-slotopsie asook kiesbare tweewielaandrywing. Hiermee maak die Triton Xtreme kinderspeletjies van selfs die uiterste avontuurlike rytoestande.

Binne

Aan die binnekant het hy ’n outomatiese Sport-skakelknop en Android Auto en Apple CarPlay, met ekstras om jou slimtoestel te gebruik sonder dat jou aandag hoegenaamd van die pad voor jou dwaal. Hiermee kan jy aanwysings kry, oproepe maak en ontvang, boodskappe stuur en ontvang en na jou gunsteling- afgelaaide musiek luister.

Uit die oog, maar ewe prakties, pronk die Triton Xtreme ook met nuwe Ezydown-hidrouliese dempers, wat die agterklap in staat stel om fluisterend oop te maak.

Die laaibak het nou rubber, wat professioneel aangebring is en die voertuig en die inhoud agter beskerm, en hy kom standaard met ’n bakseiltjie wat seker maak alles agterin word weggesteek van gierige oë, terwyl dit terselfdertyd die inhoud teen reën en stof beskerm.

Die laaideur kan ook gesluit word.

Dieselverbruik

En in hierdie tye van maandelikse geweldige stygings in brandstofpryse vaar die Triton Extreme goed as een van die bakkies in sy klas met die beste brandstofverbruik. Onder gewone ry-omstandighede behoort bestuurders so 8,3 liter / 100 km te handhaaf, maar op ons langpadrit was die verbruik nog meer ekonomies.

Buite

Die nuwe Triton Xtreme is gewis “ekstreem” aan die buitekant met ’n magdom bykomende kenmerke wat dit onmiddellik herkenbaar maak en dit selfs van ’n afstand af laat uitstaan. Die Xtreme-stel bestaan ??uit ’n nuwe swart buffer en sierrooster, enjinkapbeskermer, hoofligskerms, klipskerms, dakrakstutte, agterligskerms, stylbalk, A-line Hazard- magnesium-sierwiele met Pirelli Scorpion All-Terrain-bande geskoei, sowel as ’n Bosal-sleepstang.

Veiligheid

Aangesien niks vir Mitsubishi Motors belangriker is as die veiligheid van die insittendes nie, behou die Triton Extreme sy volle en omvattende aktiewe en passiewe veiligheidstelsels.

Dit sluit elektroniese veldrybystand in, heuwelafdraandebeheer vir bykomende veiligheid, outomatiese stabiliteit- en vastrapbeheer asook ’n sewe-lugsak-stelsel vir verhoogde veiligheid vir elke sitplek.

Waarborg en diens

Die Mitsubishi Triton Xtreme word gedek deur die oorspronklike Mitsubishi Motors-vervaardigerswaarborg van drie jaar of 100 000 km, ’n vyfjaar/90 000 km-diensplan en ’n vyfjaar/onbeperkte afstand-padbystand.

Versienings-tussenposes is op elke 15 000 km of een keer per jaar vasgestel.

Prys: Die Mitsubishi Triton dubbelkajuitbakkie begin by R 559 440.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article