Die koeël is deur die kerk vir sommige ondernemings nadat baie van hulle se winsgewendheid ook tydens die onlangse oorstromings gesink het. Dit blyk die realiteit in Triangle Park te wees waar die Drakenstein-munisipaliteit, volgens die sakelui daar, hulle in die steek gelaat het.
’n Bron wat anoniem wil bly en ’n onderneming in die gebied bestuur, het Paarl Post se aandag gevestig op die sakelui in Charleston Hill se struikelblokke, terwyl hulle nog met opgerolde moue (en een oog op die bankstate) besig is om te herbou.
“Ons eie besigheid is gelukkig nie só erg getref nie, maar my hart breek vir my buurmanne wat onder erge skade gebuk gaan, met min ondersteuning. Daar is sommiges wat nie teen oorstromings verseker is nie, of dié wat wel is, se versekerings wil nie vir dié skade uitbetaal nie,” vertel sy.
Die bron is bitter ontevrede oor die munisipaliteit se tekort aan proaktiewe bestuur gedurende die ramptoestand – van voor die oorstromings tot daarna.
“Triangle Park was heeltemal onder water nadat die Hugosrivier (wat uit Bergrivier uitmond) sy walle oorstroom het. Rioolpype en dreine was met stormwater oorspoel en riviersand lê nou die wêreld vol. Daar is geen waarskuwings oor voorsorg vir dié tipe vloede vooraf aan ons in dié wyk gekommunikeer nie.”
Philip Pansegrouw, die munisipaliteit se waarnemende uitvoerende direkteur van ingenieursdienste, sê egter hulle plaas gereeld waarskuwings aangaande weersomstandighede en hul moontlike impak op Drakenstein se sosialemedia-platforms, en het dit ook voor en tydens die oorstromings in Junie 2023 gedoen.
Die bron kritiseer ook die munisipaliteit se oënskynlik swak rampbestuur van nooddienste onder ’n gesamentlike bestuurskomitee.
“Hulle het almal natuurlik langnaweek gaan hou toe die aanvanklike storms verby was. Meanwhile het ons tot die Vrydagmiddag (14 Junie) gesukkel om ons persele binne te gaan weens hoë watervlakke en modderstortings. Dit het dae lank geneem vir die water om te sak!”
Munisipale werkers was doenig in Rectanglestraat gedurende die nasleep, onthou sy, “maar daar is slegs een trok uitgestuur, waar tien ouens met net twee besems uitgeklim het. Dít vir dik lae modder wat op ons persele gelê het,” skerts sy by.
“Ons moes digger loaders huur om van die ergste modder ontslae te raak. In die tyd wat ons gesukkel het om in ons persele te kom, was daar ook ’n toename in gevalle van inbrake en diefstal.”
Wat nog gepla het, was dat die skoonmaakoperasie ondoeltreffend uitgevoer is toe die meeste van die gemors wat in die rivier afgespoel het slegs in die een hoek van Triangle Park gestoot is.
“Hulle het bitter min van die gemors werklik skoongemaak deur nie al die modder, vullis en vuilgoed op te tel en te verwyder nie. Hulle het al daai gemors wat die ondergrondse tonnel onder die treinspoor geblok het net kant toe gestoot en dit net so gelos.”
Indien die ondergrondse tonnel op die hoek van Rectanglestraat nie geblok was nie, sou die watervlak baie vinniger gesak het, meen sy.
In reaksie hierop het Pansegrouw gesê: “Modder en rommel is van die padoppervlak verwyder in ons skoonmaakoperasies. Ongeveer 750 m³ modder is van die padoppervlak verwyder,” sê hy.
Met betrekking tot Drakenstein se planne om toekomstige oorstromings te beperk, sal hulle die walle van die Hugosrivier herstel en daar sal ook gekyk word “na maniere om vloedskade te beperk deur die impak van die waterafloop te verminder,” verduidelik Pansegrouw.
Hy wys daarop dat klagtes aangemeld kan word via Drakenstein se klagte-toepassing (SeeClickFix) en “ondersteuning sal gebied word, soos nodig, en soos die weer dit toelaat”.
Laastens het die klaer in Triangle Park vertel “raadslid Theuns Bester het ’n besoek hier kom aflê ná die oorstromings en hy het reguit vir my gesê: ‘Ek is ’n politikus’. Dit het my klaar die idee gegee dat ons aan die kort ent gaan trek.”
Hierop het Pansegrouw bloot daarop gewys dat raadslede nie direk betrokke is by operasies van die munisipaliteit nie, “en politieke ampsdraers speel slegs ’n oorsigrol”.
Marita Slabber van Wimpie Slabber Nutsman Dienste sê hul skade het altesaam sowat R1 miljoen beloop, “waarvan die uitbetalings nog nie met die versekering uitgeklaar is nie.
“Gelukkig het ons ’n uitstekende makelaar wat ons na die regte tipe versekering verwys het.”
Vir haar lê die probleem eerder by die bestuur van die damme se sluise wat te laat oopgemaak is.
“Daar kom uitstekende samewerking van sommiges by die munisipaliteit. Maar jy sal persoonlik moet uitreik en sê ‘kom help ons’. Dit gebeur nie sommer as jy ’n nommer skakel nie.”
Hier het Pansegrouw ook bygevoeg dat indien private eienaars eise by Drakenstein se versekeringsafdeling wil indien, dit oorweeg sal word.
“Die munisipaliteit doen skade-opnames op munisipale infrastruktuur, nie op private eiendom nie. As sodanig het die munisipaliteit die skade by omliggende paaie, brûe, riviere en oewers bepaal.”





