Eskom – Rome is aan die brand!

Credit: SYSTEM

Die kragkrisis het nou katastrofiese afmetings in die brose ekonomie van SA aangeneem – veral hier in die Wes-Kaap, waar ons ’n sterk landboukomponent, wat van kragvoorsiening afhanklik is, handhaaf.

Terwyl ons eerste burger met ’n onlangse Facebook-boodskap probeer het om die 18%-verhoging van Eskom se nuwe tariewe te versag asof ons ’n guns gedoen is dat dit nie 32% was nie, maar wel 18%, is Rome aan die brand.

Nee, agbare burgemeester, dit is nie aanvaarbaar nie – dit is onregverdig, misdadig en ’n vertrapping van ons menseregte deur Nersa om weer eens ’n verhoging hoër as die inflasiekoers op te dis om vir Eskom se openlike wanbestuur en korrupsie te betaal.

As Eskom vorentoe ook nog in drie funksionele dele gaan voorbestaan soos beplan, gaan dit net weer verdere geleenthede aan misdadigers gee om op groot skaal te knoei en te steel. Ons moet dit met uiterste agterdog bejeën en hewig weerstand bied, al eindig ons met uiterste vorms van strafmaatreëls soos belastingboikotte.

Verskeie – indien nie alle – bedrywe plaaslik word negatief hierdeur geraak, waaronder kleinsake-voedselverwerkingsaanlegte, vrugte-pakhuise, abattoirs, uitvoermaatskappye, vervaardigers van toerusting en wetsgehoorsame burgers oor ’n wye spektrum.

Salarisse kan ook nie tred hou met die onverantwoordelike verhogings nie.

Wanneer gaan vraag en aanbod gekoppel aan aanvaarde sakepraktyke weer die norm word sodat die +-14 000 oortollige personeel by Eskom die trekpas gegee kan word?

En wanneer gaan die wurggreep op die uitbreiding van alternatiewe kragvoorsiening en tegnologie en die afskaffing van BEE – beginnende by Eskom – deur middel van vryemarkbeginsels aangepak word om ons ongelooflike mooi land weer op die pad van voorspoed te plaas?

Wanneer gaan almal die geleentheid gegee word om by te dra tot die betaling van hul eie kragrekeninge, veral in Soweto?

Hier dink ons ook aan die sloerende gasontginningsprojekte wat gebuk gaan onder gebrekkige en korrupte aankoopprosesse wat as ’n geleentheid kon dien om werk vir duisende hoopvolles en verhongerdes te skep.

Verbroude tenders om toegeruste kragskepe vir kragopwekking aan te wend, sloer al jare om die las te verlig.

Die versuim om op te tree, is dalk die laaste strooi wat die kameel se rug kan breek.

Dit lyk of daar nie nou iets gaan gebeur nie – gewis nie gou nie, want ons president word gereeld geprys omdat hy die “lang spel” (long game) speel. Weet hy ooit wat dit beteken, of is hy bloot net ’n onkundige opportunistiese skilpad wat altyd laat by ’n geleentheid gaan opdaag om sy leierskap te demonstreer, of pas hy maar net volstruispolitiek toe terwyl SA ondergaan?

Meneer die president, ons almal se tyd en geduld is nou op.

Ons werkloosheidsyfer word pal onder die mat gevee. Dit is katastrofies vir die ekonomie. Die uitwerking van die Eskom-sage tref reeds landwyd, want sakeondernemings (werkverskaffers) word ernstig gestriem terwyl politieke leiers en sindikate die soustrein se laaste bietjie voordele vir hulself vat.

Die krisis is nou onafwendbaar en nie meer net ’n moontlikheid nie. Ons is reeds op ’n wye afgrond waar armoede en onrus almal in SA in die gesig staar.

Ons vra ons leiers ook hier plaaslik om die bul by die horings te pak en nie lippetaal te bewys teenoor dwaashede soos dit waarmee Eskom en Nersa besig is nie.

Ons trek nou die streep in die sand teen misdadige leiers, en verbruikers moet besef Eskom is lank reeds bankrot en ons is op onsself aangewese om in ons energiebehoeftes te voorsien om die wa deur die drif te sleep. Die geleenthede vir kleinskaalse kragverbruikers is legio, en ons kan dadelik selfstandig begin raak met die implementering van maatreëls om ons meer onafhanklik van die kabaal te maak.

Voorstelle en oplossings kan aan die sakekamer gerig word en sal ernstig oorweeg word om verder gevoer te word met projekte en die deel van inligting. Kom ons neem hande om saam hierdie krisis in sakegeleenthede om te skep om ons vermoëns en vaardighede tot voordeel van almal in ons gemeenskap en die land in sy geheel saam te voeg. . Dirk Breytenbach is die voorsitter van die Drakensteinse sakekamer en kan gekontak word by dirk@drakensteinsakekamer.co.za

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article