Die skade wat die storm drie weke gelede in die Paarl aangerig het, het talle huishoudings erg benadeel, maar het veral die Hendricks-egpaar se lewe drasties verander.
Moira (63) en Elwan Hendricks (63) se huis langs die Palmietrivier in Paarl-Oos is nie net deur die rivier wat agter hul huis verby vloei beskadig nie, maar vandale het hul huis so afgebreek tot waar dit vandag net “ ’n leë dop” is.
Moira vertel dat hul Vibracrete-muur reeds die oggend van 15 Junie, toe die vallei op verskeie plekke oorstroom is, deur die rivier meegesleur is.
“Die volgende oggend voor my man werk toe gegaan het, het hy buite om die huis geloop om te kyk of alles nog veilig aan die agterkant van die huis is. Dit is toe hy sien dat die rivier ’n tree weg van die agterkant van ons huis was.”
Elwan het hom toe gehaas na die brandweer om hulle te kry.
“Toe ek weer sien, toe slaan die rivier se water teen die huis se muur. Ek en my bure het toe die agterste vertrekke se meubels begin uitdra, maar toe die brandweer kom, het hulle oorgeneem en vir ons die meubels aangegee.”
Sy verduidelik met die brandweer se aankoms was ’n gedeelte van die huis se fondasie reeds weggespoel en het die brandweer hulle versoek om uit die huis te gaan, omdat hulle bang was dat die huis in die rivier sou val.
Dae later is dit presies wat daar afgespeel het. Drie vertrekke, waaronder twee slaapkamers en ’n badkamer, is deur die sterk water van die Palmietrivier meegesleur.
Moira sê dit is nie die eerste keer dat dié rivier skade aan hul erf aanrig nie en die Vibracrete-muur is al op twee vorige geleenthede deur die rivier weggespoel en die egpaar moes self als vervang.
“Ek en my man is nog baie emosioneel oor als. As ’n mens so stilsit, dan loop die trane. Dit was ons plekkie wat ons oor die jare opgebou het. Ons het ons kinders hier grootgemaak. En as ek so sit en dink, sien ek elke keer hoe my seun se trane rol terwyl hy die meubels by die brandweermanne aanvat.”
Oor hoe lank hulle daar woon, sê Moira dat sy op die versekeraars se dokumentasie gesien het dat hulle reeds sedert 1998 daar woon.
“Nou moet ek by iemand anders woon. My buurvrou, by wie ons woon, is baie goed vir ons, sy is soos ons kind, maar daardie was ons eie huis,” vertel ’n hartseer Moira.
Buiten die skade wat die rivier aangerig het, stroop misdadigers nou ook dag ná dag die res van die huis.
“Die vensters en vensterrame is uitgekap en die mure word afgekap. Hulle is nou besig om die koperpype uit die mure te kap.
“ ’n Mens kan amper nie eens slaap soos daar deur die nag gekap word nie en ons kan niks daaraan doen nie,” vertel sy.
Moira verduidelik dat die assessor reeds by hulle was en dat hulle nou wag om te hoor of hul huis oorgebou kan word en of dit gesloop moet word.
“Daar is baie dinge wat oorweeg moet word voor ’n besluit geneem gaan word en ons verstaan dat die proses tyd vat.”
Sy sê dat hul seun en dogter, wat reeds getroud is, net so hartseer is oor wat gebeur het.
“Ons kinders, die bure, vriende en ons familie ondersteun ons geweldig baie. Maar ek moet erken dat ek die afgelope paar dae baie depressief oor als gevoel het. En wat ook al oor ons huis besluit word, ek en my man het reeds besluit dat ons nie weer daar sal wil woon nie.”





