Die trane het Vrydag (27 Oktober) behoorlik gerol op die stel van die geliefde Suid-Afrikaanse sepie 7de Laan tydens die verfilming van sy laaste episodes ná amper drie dekades op die kassie.
Die sepie se vervaardigers het in Julie vanjaar aangekondig dat 7de Laan aan die einde van vanjaar tot ’n einde sal kom – ’n besluit wat volgens die sepie deur die SAUK geneem is.
Die laaste episode van reeks 24 sal in Desember uitgesaai word.
“Dit was ’n eer om Suid-Afrikaners en almal daar buite met ons talente en stories te kon dien. Staan vas, want die laaste paar episodes gaan jy nie wil misloop nie. Dankie, Suid-Afrika,” het ’n Facebook-inskrywing deur 7de Laan Vrydag gelui.
Op die foto’s wat by die inskrywing aangeheg is, omhels van die akteurs mekaar met ’n paar wat selfs ’n traan of twee stort.
Carina Nel, wat die rol van Alexa vertolk, het Vrydag in ’n video gesê: “Baie dankie aan al ons kykers wat ons vir 23 jaar ondersteun het. Ons is lief vir julle. Ons bring vir julle nog so ’n klein bietjie stories en ons harte is baie seer om nie meer op jul skerms te wees nie, maar dit was een pretrit.”
In dieselfde video sê Dirk Stoltz, wat die rol van De Wet Basson vertolk: “Asseblief, in julle harte, moet ons nie vergeet nie. Ons is lief vir julle. Ons is verskriklik dankbaar vir julle, en tot die 26ste Desember moet julle aanhou kyk.”
Hildegardt Whites, wat in ’n stadium Bonita Meintjies was en toe later Bonita Basson geword het, was een van die 7de Laan-karakters wat diep in kykers se harte geklim het.
Haar karakter het altyd alles in haar mag gedoen om haar familie en geliefdes te beskerm –soveel so dat kykers soms nie geweet het of hulle haar moet kritiseer of prys vir sekere dade nie.
“Dis emosioneel. Dis ’n warrelwind. Ons lag, ons huil – ons doen alles. Ons wil net vir julle dankie sê vir 23 wonderlike jare. Baie dankie vir alles. Ons gaan dit mis,” het sy Vrydag saam met haar jare lange regterhand (soms vyand), Ingrid Paulus, oftewel Vanessa, in ’n video gesê.
Altesaam 13 tonele is Vrydag verfilm teenoor die 20 tonele wat 7de Laan gewoonlik per dag sou skiet.
7de Laan is op 4 April 2000 vir die eerste keer uitgesaai, en het oor die afgelope 23 jaar ’n Suid-Afrikaanse gunsteling geword.
Talle Suid-Afrikaners het deur middel van 7de Laan leer Afrikaans praat, en die sepie het ook gehelp met die land se oorgang na demokrasie.
Die SAUK het sedert 7de Laan se aankondig in Julie vanjaar nog geen amptelike kommunikasie uitgereik oor hoekom hy (volgens 7de Laan se vervaardigers) die besluit geneem het om die sepie te beëindig nie.





