'n Bejaarde paartjie is oorlede in 'n motorongeluk in Klapmuts
‘n Bejaarde paartjie is oorlede in ‘n motorongeluk in Klapmuts

‘n Bejaarde egpaar van Klapmuts het Saterdagmiddag (25 Oktober) tragies omgekom in ‘n botsing op die R44.

AO Christiaan Paulse van die Klapmuts-polisie, het die ongeluk bevestig waarby vier voertuie betrokke was.

Volgens Paulse was die oorledenes, wie se identiteit op hierdie stadium nog onbekend is, onderweg vanaf Paarl na ‘n plaas langs die R44.

Die ongeluk het net na 14:00 gebeur tussen Potbelly en die ingang van Arra-wynplaas, waar die twee bejaardes woonagtig was by hul seun.

“‘n Ander voertuig het van agteraf teen die voertuig waarin die twee oorledenes gery het, vasgery. Met die impak het die bejaardes se voertuig vorentoe geslinger en ‘n ander voertuig getref wat in die teenoorgestelde rigting aangery gekom het. Daardie voertuig het toe op sy beurt nóg ‘n ander voertuig getref wat ook in die teenoorgestelde rigting gery het.”

Die voertuig van die oorledenes het tot stilstand gekom in ‘n veld, verduidelik Paulse. “Albei insittendes is op die toneel dood verklaar.”

Paulse sê die insittendes van die ander voertuie het ligte beserings opgedoen.

Die Klapmuts-polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article