’n Bejaarde man het die afgelope naweek ’n motorongeluk oorleef toe sy motor byna van Bainskloofpas afgerol het.
Die 67-jarige Jan Burger het Saterdag besluit om ’n bietjie deur die Paarl en Wellington te ry, vertel Muhammad Brinkhuis, wie se vrou, Desere, ’n niggie van Burger is.
Brinkhuis vertel dat Burger onlangs van KwaZulu-Natal na Gordonsbaai verhuis het en dat sy vrou die enigste familie is wat naby woon omdat sy seun oorsee werk. Die Brinkhuis-familie woon ook in Helderberg.
“Hy sal gewoonlik elke Saterdag by ons ’n draai kom maak en sê waarheen hy gaan, maar hy het nie die Saterdag gekom nie en dit was vreemd.
“Hy het vir hom langs die pad vis en tjips gekry en toe hy wil aftrek om te eet, toe gebeur die ongeluk. Volgens die paramedici het oom Jan vermoedelik sy bewussyn verloor. Dit is God se genade dat hy teen ’n rots vasgery het en nie van die pas af nie.”
Burger het beserings opgedoen aan sy kop, nek en rug en is steeds in die hospitaal. Geen ander voertuie was in die voorval betrokke nie.
“Hy is gelukkig bygestaan deur ander motoriste wat die ongeluk sien gebeur het. Ons as familie wil net baie dankie sê aan Bronwyn Wright en Monique Jansen en hul gesinne wat vir oom Jan op die toneel bygestaan het.”





