Die agtjarige Tova Julius van Wellington is die afgelope tyd op televisie in die sepie Suidooster te sien, waarin sy die karakter van Stella vertolk.
“Dit was baie exciting vir my. Ek is baie trots op myself en dit voel baie lekker om myself op televisie te sien,” vertel Tova oor die rol wat sy in die KykNet-sepie speel.
Volgens Jennilee Julius is haar dogter al van driejarige ouderdom deel van Triple Threat Agency in die Paarl. Dit is ’n agentskap wat klasse vir uitvoerende kunste aanbied en jong akteurs soos kinders in die plaaslike, maar ook die internasionale TV- en fliek-bedryf, verteenwoordig. Julius sê Tova het die rol deur die agentskap losgeslaan.
“Hulle (die vervaardigers van die sepie) het deur die agentskap gewerk en ’n kind met haar features gesoek. Die agentskap het haar toe voorgestel.”
Cameron Julius beskryf sy dogter as iemand met ’n sagte hart en wat al van kleins af lief is vir sing.
“Sy hou daarvan om te help waar sy kan en is baie lief vir diere. Sy staan op vir dié wat sy liefhet en sê hoe sy voel in haar hoedanigheid.”
Tova is ’n gr. 2-leerder aan St. Albans Primêr in Wellington. Oor hoe sy skool en haar toneelspelloopbaan hanteer, sê Julius “Tova hanteer dit baie goed”. Buiten haar talente as akteur het Tova soos enige ander agtjarige hope belangstellings. “Ek hou daarvan om te sing en netbal te speel,” sê sy.
Haar ma sê dit is eintlik baie gemaklik, want sy verfilm altyd ná skool en haar tye is altyd vir later in die dag geboek.
“Tova is ’n baie passievolle kind. Sy hou ook daarvan om haar eie video’s oor haar dag te maak en sy is dol oor haar skoolloopbaan.”
Dit is die eerste keer dat Tova in ’n sepie verskyn en sy kan nie ophou praat oor die wonderlike ervaring nie.
“Ek sal graag verder acting wil doen.”
Niks oor die verfilming was vir haar moeilik nie, sê sy.
“Als was groot pret en ek het daarvan gehou om die ander akteurs te ontmoet en om op te dress. My woorde was maklik en ek het altyd genoeg tyd gehad om dit te leer.”
Suidooster word elke week van Maandag tot Vrydag op die KykNet-kanaal om 18:00 en KykNet & Kie om 18:30 uitgesaai.. The eight-year-old Tova Julius from Wellington recently appeared on television in the soapie Suidooster, in which she plays the character of Stella.





