Heinrich Isaacs van Roses United probeer weghol van Saldanha se verdedigers Jaydrin Kotze (heel regs) en Riaan Louw.Foto: Roswall de Vries


Die spanne het aanskoulike en spannende rugby Saterdag by die Boland-rugbystadion in Wellington opgedis. Niemand kan dit betwyfel dat elke span wat in die Top-12 gespeel het, sy plek verdien het nie.

’n Terugslag het egter die tuisspan, Roses United, net voor die afskop getref toe Tyron Abelse sy arm in die opwarming beseer het. Roses moes daarna die knie teen ’n sterbelaaide Saldanha-span buig.

Roses-heelagter Adrian Jacobs het ’n goeie agterlynbeweging in die vierde minuut afgerond. Sy losskakel, Keagan September, het dit verdoel. Saldanha se Jacquin Jansen, heelagter en voormalige Boland-speler van Wellington, het met ’n strafskop in die 10de minuut geantwoord. September het Roses se telling met twee strafskoppe gerek en ook met lang lynskoppe beïndruk. Saldanha se Emile Booysen, nog ’n Wellingtonner, het met die eerste helfte reeds verstreke ’n drie gedruk wat deur Jansen verdoel is vir die rustydtelling 13-10 in Roses se guns.

Roses het in die eerste minuut in die tweede helfte ’n strafskop afgestaan waarmee Jansen die telling 13 punte elk gemaak het.

Dit was ’n baie fisieke wedstryd, en Roses se jong span wat sy man behoorlik gestaan het, moet krediet kry.

Die manne van die Weskus het aanval op aanval van stapel gestuur, maar Roses se rotsvaste verdediging het verhoed dat hulle dit in punte omgeskep het. Saldanha se Charlie Vraagom het uiteindelik met ’n skepdoel geslaag, wat sy span 16-13 laat voorloop het met 28 minute se speeltyd oor. September het die telling 10 minute later 16 punte elk gelykop gemaak.

Saldanha het 10 minute speeltyd oor nog ’n drie gedruk, wat Jansen verdoel het. Dit was neusie verby vir Roses toe Vraagom met vier minute speeltyd oor met nog ’n skepdoel slaag.

Die wedstryd is gekenmerk deur baie hanteerfoute aan weerskante.

Roses se kaptein, Thurlow Marsh, was trots op sy manne wat tot die bitter einde geveg het.

Eindtelling: Roses 16 – Saldanha 26

Ander uitslae:

Evergreens Wellington 26 – Young Eagles 24; Young Blues (Wellington) 34 – Temperance (Gouda) 26.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article