Die tien merlot-wenners met hul wensertifikate: Van links agter staan Paul de Villiers van Landskroon, Philip van Staden van Dornier, Luca Bein van Bein Wine, Marinda Kruger van Elgin Vintners, Stander Maass van Anura en Kallie Fernhout van Delaire Graff. Voor links is die wynmakers Matthew Copeland van Vondeling, Frank Meaker van Org de Rac, Flo Beukes van Groot Constantia en Johnnie Kalitz van Glen Carlou.


Die eerste “Hello Merlot” het op 31 Mei en 1 Junie plaasgevind, waar die tien beste merlot-wynmakers in die land op die Vondeling-wynlandgoed aangewys is.

Hierdie gesoute wynmakers is gekies deur die beoordelaars Cathy van Zyl, Malu Lambert, Spencer Fondaumiere, Tarryn Vincent, en Matthew Copeland, wat 71 inskrywings vir Suid-Afrika se beste merlot moes fynkam.

Die jonger wyne van 2018 se oesjaar tot nou het die vyf beoordelaars met hul gehalte beïndruk.

“Copeland, die wynmaker by Vondeling, het gesê die jong merlot-versnitte het varsheid en beheerde houtveroudering, wat tot ’n uitstekende uitdrukking van kultivar-karakter gelei het, gewys,” lui die persverklaring van “Hello Merlot”.

Copeland het bygevoeg die wynmakers het ’n behoorlike begrip van die druifsoort asook die wingerdperseel gehad, en aangedui die palet was nie te swaar nie, maar het geure van rooi vrugte en speserye terselfdertyd gedra.

Tarryn Vincent, van die Reciprocal Wine Company, het Copeland se siening herhaal deur te sê die ouer wyne het moeiliker gedrink.

“Die meer volwasse inskrywings was telkens swaar op ekstraksie en die houtbehandeling het die vrug- en kultivar-karakter onderdruk,” het Vincent in die persverklaring verduidelik.

Cathy van Zyl het bygevoeg dat daar baie min “bedompige wyne” of wyne met ’n “souterige geur” was.

Die verlaagde tanniene en die tipiese “rooibessievrug” was ook prominent in die merlot-wyne, het Malu Lambert gesê.

“Ons het goeie merlot gesien, met ’n Suid-Afrikaanse kinkel.”

Suid-Afrika se merlot het ’n uitstekende kultivar-uitdrukking danksy die sonnige weer waarvoor die Kaapse Wynland-distrik beroemd is, het sy ook verduidelik.

Spencer Fondaumiere, wat uitgebreide ervaring in die gasvryheidsbedryf het, het gesê met die beoordeling van die wyne was dit maklik om te sien waarom merlot so gewild in Suid-Afrika is. “Daar is ’n sagter en vroulike kant tot die kultivar, wat wyd aanklank vind – veral by wyndrinkers wat nie van swaar tanniene hou nie,” het hy gesê. . The first Top 10 Merlot winners were announced at Vondeling Wine Estate last week.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article