Ek is diep teleurgesteld (WEER EENS) deur die munisipaliteit.

Woensdag 20 Maart ry ek Dal Josafat-toetssentrum toe om my bestuurslisensie te hernu – ’n noodsaaklike diens wat deur die munisipaliteit gelewer word. Ek begin soggens om 07:00 werk en maak eers 16:00 smiddae klaar, dus is my etensuur die enigste tyd wat ek hiervoor kan afstaan. Maar met my aankoms by die sentrum net ná 13:00 word ek ingelig hulle is toe vir die dag.

Absoluut skokkend – die vraag is hoekom?

Ek moes my hele etensuur hiervoor afstaan en die Vader alleen weet wanneer ek weer tyd hiervoor gaan kry. Ek het ook die hele pad van die Paarl af gery – vir wat?

Dit is net nog een van die talle voorbeelde van uiters swak dienslewering in die Paarl.

Graag sal ek ook wil weet hoekom word dienste nie by die verkeerskantoor in die Bergrivier Boulevard vir Paarliete gelewer nie. Wellington het immers ’n verkeerskantoor, maar ons Paarliete moet Dal toe ry!

Hierdie “City of Excellence” behoort eerder te lees “City of Despair!”


Linda Hanekom,

Paarl

Eda Barnard, direkteur: openbare veiligheid, Drakenstein-munisipaliteit, reageer: Ons munisipaliteit is pas deur Good Governance Africa as die nommer-een- sekondêre stad in Suid-Afrika in die Governance Performance Index (GPI)-verslag van 2024 aangewys. Die bestuur van die munisipaliteit het dit daarom goedgedink om ons hardwerkende personeel met ’n middag af op Woensdag, 20 Maart 2024, te beloon. Ons het ons inwoners van die vroeë sluiting in kennis gestel deur ’n kennisgewing op ons munisipale kommunikasieplatforms, soos onder meer ons Facebook-blad en SeeClickFix-toepassing, te plaas. Die munisipaliteit vra verskoning vir die ongerief wat die vroeë sluiting van die Dal Josafat-toetssentrum vir die betrokke leser veroorsaak het. Let daarop dat ons verkeerskantoor in Bergrivier Boulevard, Paarl, dienste aan die publiek verskaf, soos die elektroniese hernuwing van motorvoertuiglisensies en die aanmelding van voertuig-ongelukke.Vir ander verkeersdienste vra ons die publiek om die Dal Josafat-toetssentrum te nader, wat sentraal tussen die hoofsentra van Drakenstein, naamlik die Paarl, Wellington en Mbekweni, geleë is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article