Wellingtonners toon baie trots vir hul dorp, sowel as pogings om plaaslike toerismeaanbiedings te bemark en te beklemtoon. Ongelukkig blyk dit die ou Toerismeburo-kantoor dien deesdae eerder as pakplek vir die Drakenstein-munisipaliteit.
Volgens ’n Facebook-inskrywing op die Wellington-belastingbetalersvereniging (WBV) se blad is dié historiese gebou op 31 Mei ontruim. Dit het reaksie uit die gemeenskap gelok toe die gebou glo ’n dag daarna aangewend is om as stoorplek vir die Arendsnes-plakkers se meubels te dien.
Die ou Wellington-toerismekantoor en Arendsnes val onder die munisipaliteit se kuratorskap vir ekonomiese groei en toerisme. “Wellington kan sy wynplase, Bainskloof, monumente en nog baie daar bekend stel, en so kan dit ook ’n inkomste genereer deur die gebou nie te laat vergaan nie. Ek reken egter dit was die naaste en vinnigste stoorplek,” is kommentaar wat die WBV-voorsitter, Eugene Stapelberg, op die inskrywing gelewer het.
By verdere navraag sê Stapelberg die meubels, wat glo van die plakkers se besittings is, het eers ruimte by die Arendsnes opgeneem. “Die plakkers is intussen uit die Arendsnes verwyder en na ’n ander hawe of skuiling verplaas.”
Presies waarheen dié plakkers verplaas is, is nie deur die Drakenstein-munisipaliteit bevestig nie.
Jacqui Samson, die uitvoerende direkteur van beplanning, ontwikkeling en menslike nedersettings, sê die munisipaliteit maak gebruik van Wellington Storage wanneer stoorplek benodig word.
Tog blyk dit die munisipaliteit het ’n tekort aan bergruimte vir sy eiendom gehad. “Ons het stoorplek vir die meubels benodig en van die beskikbare ruimte by die Wellington-toerismekantoor gebruik gemaak.”
Kwessies oor die gebou se veiligheid is ook bevraagteken.
Die WBV-lid Christine Marais wou weet of die toerismekantoor in Pentzstraat 24 uur per dag deur veiligheidsdienste bewaak word.
Sy voer aan aangesien die besittings van plakkers hier geberg word, hou dit ’n moontlike gevaar van vandalisme of inbraak in.
“Ek sal ook graag wil weet wat die munisipaliteit se toekomsplanne behels om die gebou meer produktief aan te wend.”
In reaksie sluit Samson af: “Die Drakenstein-munisipaliteit het sedert 1 Maart vanjaar 24 uur-veiligheidsdienste by die kantoor ingestel toe die sentrum geopen is. Die beskikbare ruimte sal vir informele handel deur smouse aangewend word.”
* Workers were seen moving furniture, believed to be that of squatters from the Arendsnes, into the old Wellington Tourism Buro offices in Pentz Street. A DM official responded to questions, saying that they used the vacant spaces as storage for furniture, in addition to utilising the historic building as a future trade space for micro entrepreneurs.





