Die toergids Hybré van Niekerk by die Strooidak-kerk. Foto: Chantélle Hartebeest



Toergidse is die bewaarders van die dorp se geskiedenis. Hybré van Niekerk is al langer as tien jaar in toerisme, en elke keer deel sy die Paarl se ryk stories met groot lof met toeriste en mense wat belangstel.

Van Niekerk is gebore en getoë in die Paarl en kan haar trots vir haar tuisdorp nie wegsteek nie, al probeer sy hoe hard. Sy staan altyd gereed met ’n interessante staaltjie om te vertel oor die ontstaan van die dorp van toe af tot nou.

Daar is duidelik soveel passie in haar stem wanneer sy mense op haar toere deur Hoofstraat neem, dat jy elke minuut aan haar lippe hang. Met ’n groot belangstelling in geskiedenis, en veral dié van die Paarl, is dit nie per toeval dat Van Niekerk vandag as provinsiale toergids in die beroep staan nie.

Met ’n jare lange agtergrond in die bedryf vir direkte verkope het sy in 2005 by Paarl-toerisme as inligtingsbeampte en bemarkingskoördineerder aangesluit. “Ek het al van kleins af baie in geskiedenis belanggestel. Ek onthou ek was in graad vyf toe ek van die dorp se geskiedenis begin leer het. Toe is dit nou Afrikaans en hoe Paarl sy naam gekry het en die wynbedryf. Die name Abraham Gabbema en Arnoldus Pannevis en Jan van Riebeeck het in my kop vasgesit. Dit het my bygebly vir jare en jare.

“Toe ek by die toerismekantoor begin werk, moes ’n mens saam met die pakket om jou dorp met al sy besienswaardighede te bemark, natuurlik die geskiedenis van die dorp kan deurgee as iemand jou vra. Ek het my so goed vir daai onderhoude voorberei. Dit was vir my so gemaklik omdat ek daarvan hou en daarin belangstel. Dit was vir my tweede natuur.”

Met Van Niekerk se tyd by Paarl-toerisme het sy Cathy Raymond, ’n toergids, ontmoet – iemand wat sy bewonder en vir wie sy baie respek het. Raymond was destyds die eienaar van Vintage Cape-toere en het opgelet dat Van Niekerk ’n belangstelling in toere en geskiedenis het.

“Sy [Raymond] het toe voorgestel dat sy ’n paar van die vroue vir toergids-opleiding stuur. Dit was in die winter van 2006. Cathy het in die winter tyd gehad, want dan het sy nie toere gehad nie. So het sy ons opgelei en elke aand ’n entjie gestap en vertel van die geboue [in Hoofstraat] met die gedagte dat sy werk vir iemand kan skep.”

Van Niekerk het in 2011 by die historiese Het Gesticht-kerk, wat in ’n museum omgeskep is, begin werk. Sy is as museumbestuurder en kurator aangestel. “Ek het navorsing gedoen toe ek by Het Gesticht begin werk het. My eerste navorsingsprojek wat ek vir myself daargestel het, was om die geskiedenis van Jason Adams, die eerste vrygestelde slaaf, op te teken. Hy was 36 jaar oud toe hy as ’n volwassene in Het Gesticht-kerk gedoop is en is as die eerste lidmaat van die kerk aangeteken.”

Dit was nog altyd vir Van Niekerk belangrik om aan te hou leer en haarself op te voed.

In 2012 het die nasionale lotto geadverteer dat hy geld beskikbaar gestel het vir 20 mense om as toergidse opgelei te word. Van Niekerk het aansoek gedoen en is vir die program, wat by Boland Kollege aangebied is, gekies. Nadat sy die kursus voltooi het, is sy as ’n provinsiale toergids geregistreer. Jare later in 2017 het sy haar drome gevolg en haar eie toerisme-onderneming begin — Paarl Historical Walk and Tours.

Met al die bloed, sweet en trane wat Van Niekerk in haar onderneming ingeploeg het, het die pandemie alles in 2020 skielik tot stilstand geruk. Sy vertel dat dit tydens die aanvanklike grendeltyd swaar gegaan het, want sy het summier nie ’n inkomste gehad nie.

“Ek het myself maar met stamboom-navorsing besig gehou. Ek kon dit elektronies doen, maar kos is uit my mond gehaal. Jy moes maar aan ’n plan B dink om voort te gaan en om positief en sterk te bly.”

Die pandemie, wat aanhoudend sy sweep bly slaan het, het Van Niekerk verlede jaar laat oorweeg om toerisme agter haar te sit en ’n ander beroep te volg. Hoewel sy nie ’n inkomste gehad het nie, was haar uitgawes dieselfde. Buiten die stamboom-navorsing moes sy aan nog idees dink om ’n inkomste te skep. Sy het in ’n huis grootgeword wat altyd ’n naaimasjien gehad het – haar pa het broeke en baadjies gemaak. Dit het haar aangepor om gewone en modieuse maskers te begin maak.

“Wanneer jy as gids werk, met die balkie met jou naam en die Suid-Afrikaanse vlag op, besef niemand wat die gids alles moes deurmaak nie. Party mense het hul eie ondernemings gehad waar die vrou en die man albei gidse was – wat het van hulle geword?

“Dis ’n groot rol wat ’n mens as gids vervul, en as iemand jou bel met ’n navraag, kan jy nie sê nee, dis Covid; ek kan nie vir jou inligting gee nie want ek gaan nie vergoed word nie’.

“Nee, dit werk nie so nie. Jy bly die heeltyd aan die gang. Dit is die een gedeelte van jou werk wat jy uit jou kop ken. As hulle vir jou vanaand wakker klop en jou ’n vraag vra, kan jy die antwoord onmiddellik gee. Dis nie iets wat afgeskakel word nie.

“So, jy moet die hele tyd ’n gids bly en ’n gids wees, al raak dit hoe rof daar buitekant. Dis hoekom ek voel ons moet vereer word vir al daardie ekstra werk wat ons insit.”

Die geskiedenis wat die boustene is van wat die Paarl vandag is, is iets wat altyd bewaar moet word, sê Van Niekerk. Dit is ’n plek van ’n klomp eerstes, soos sy dit stel.

Dis hoekom die toerismebedryf so ’n belangrike rol in die dorp vervul. Dit lok nie net toeriste nie, maar dra by tot die groei en voortbestaan van ander ondernemings in die omgewing.

“Ons almal is eintlik verteenwoordigers van ons dorp. Ons almal is eintlik gidse met die ryk geskiedenis wat ons ook met Afrikaans het.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article