Dwelmhuise oor die Drakenstein heen bly ’n uitdaging, met verskeie wat reeds bestaan en al hoe meer wat opduik. Een so ’n huis, in St. Francislaan in Noorder-Paarl wat na bewering geokkupeer word deur metamfetamien, of te wel tikverbruikers en -verkopers, gee hul bure slapelose nagte weens die aktiwiteite wat daarin plaasvind.
“Dit is onaanvaarbaar dat die inwoners van veral die Noorder-Paarl nou al so lank opgesaal moet sit met ’n tikhuis in St. Francislaan en gepaardgaande misdaad in die gebied,” het André Fourie, ’n Vryheidsfront Plus-raadslid, in ’n persverklaring gesê.
Volgens Leon Bester, voorsitter van die Paarl se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), is die GPF bewus van die huis en die klagtes rondom die beweerde tikverbruikers wat daarin bly.
Bester het ook genoem die GPF is in samewerking met die plaaslike polisiekantoor besig met strategieë om dwelmhuise in die gebied hok te slaan, maar verdere inligting hieroor kan weens die sensitiewe aard van die operasies nie bekend gemaak word nie.
Volgens ’n inwoner in die straat is die huis reeds om en by drie jaar deur vermeende tikverbruikers en -verkopers geokkupeer.
Die inwoner het verduidelik die eienaar van die huis steeds daar bly en self die tik saam met sy ander huisbewoners gebruik of verkoop.
Volgens hulle word daar gereeld gesukkel met misdaad in die buurt, en is dit ’n gesukkel om ’n goeie nagrus te kry weens die “vroegoggende” se geraas.
“Ons hele huis ruik ook na dagga, en die reuk kom nie uit nie,” het die inwoner gesê, en verduidelik hul kamermuur aan die beweerde dwelmhuis grens, en wanneer dwelms gebruik word, dit duidelik geruik kan word.
Volgens hulle voel hulle magteloos oor die situasie en is ook bekommerd oor hul kinders se veiligheid.
Die inwoner het verduidelik dat verkoop nie ’n opsie is nie, omdat die markwaarde in die buurt nie watwonders is nie.
Volgens e-poskommunikasie op 6 Desember van Seraj Johaar, Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste, besit die munisipaliteit nie enige eiendom in St. Francislaan nie, en blyk dit ’n private eiendom te wees. Verdere navrae moet aan die Suid-Afrikaanse polisiediens gerig word.
Volgens Louise du Plessis, woordvoerder van die Paarl-polisie, het die kantoor reeds verskeie kere ondersoek ingestel na die publiek se bewerings en lasbriewe bekom.
Du Plessis het in ’n telefoongesprek met Paarl Post op 6 Desember verduidelik mense is al aangekeer, maar die plaaslike hof het die beskuldigdes vrygelaat nog voor die forensiese ondersoek afgehandel is.
Sy het bygevoeg dat dit nie ’n eenmalige voorval was nie.
Volgens haar is daar intussen vanjaar nog aansoeke om lasbriewe ingedien, wat deur die hof afgekeur is, dus kan die plaaslike polisiekantoor nie nog mense in hegtenis neem of die huis binnegaan nie.
“Sodra inligting oor ’n beweerde dwelmhuis ontvang is en ’n ondersoek na die bewerings gedoen word en verklarings verkry is, word ’n aansoek by die landdroshof vir ’n deursoeking en beslagleggingslasbrief gestuur. In die geval waar die hof ’n probleem met die aansoek vind, kan dit afgekeur word en so ’n soektog kan nie gedoen word nie. Indien ’n lasbrief goedgekeur en uitgevoer is met inhegtenisnemings, sal die verdagte in die hof verskyn, maar word dan vrygelaat weens uitstaande ondersoeke, byvoorbeeld uitstaande laboratoriumverslae vir die dwelms waarop beslag gelê is,” het Du Plessis Maandag per e-pos gesê.
Die aangeleentheid, volgens haar, berus nie slegs by die Paarl-polisie nie, maar ook die Drakenstein-munisipaliteit omdat daar nie krag- of watertoevoer na die huis is nie.
“Klagtes wat inwoners ontvang oor private wonings is ’n munisipale kwessie en as sodanig moet die munisipaliteit die bekommernisse ondersoek. Daar is gevind dat die huise in baie gevalle verwaarloos word en ’n gesondheidsrisiko inhou. In ander gevalle het ’n huis dalk nie ‘wettige’ elektrisiteit nie, maar het steeds elektrisiteit. Dit moet deur die munisipaliteit ondersoek word,” volgens Du Plessis.
Sy het gesê die polisie het reeds die beweerde tikhuis en die misdrywe daarin aan die munisipaliteit gerapporteer.





