Wat gee aanleiding tot die toename in brande in Paarl-Oos? Dit is een van die vrae wat gestel word nadat die plaaslike brandweer die afgelope naweek nóg strukturele brande moes blus.
In Oktober alleenlik is week na week berig oor die tientalle inwoners in Paarl-Oos wat dakloos gelaat is nadat hul wonings deur verskeie brande in puin gelê is.
Vier mense het in twee afsonderlike voorvalle as gevolg van ’n brand gesterf. Dit sluit in drie gesinslede van die Chicago-gebied en een persoon van die Loverslane- informele nedersetting.
Die Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, Gerald Esau, het vandeesweek aan die Paarl Post onthul dat altesaam 82 brande die afgelope ses maande in die Paarl-Oos-gebied aangemeld is. Hierdie kommerwekkende syfer is vanjaar van 1 Mei tot 31 Oktober aangeteken.
Esau het verder bevestig die plaaslike brandweer het die afgelope naweek 15 brandvoorvalle besoek.
Agt brande is in die Paarl aangemeld, drie in Mbekweni, twee in Wellington en twee in Saron.
“Altesame 35 mense is deur die brande geraak. Geen sterftes is aangemeld nie.
“Een vrou het wel brandwonde in ’n brand in Gemsbokstraat in Chicago, Paarl-Oos, opgedoen. Dié brand is voor die brandweerdienste se aankoms geblus,” sê Esau.
Hoewel baie kommer uit talle oorde uitgespreek is oor hoe die plaaslike brandweer brande blus, is die groot bekommernis en fokus egter op hoe die brande in die eerste plek ontstaan.
“Die redes vir die ontstaan van die brande het gewissel van vullisbrande (gewoonlik veroorsaak deur weggooi- of brandbare materiale soos rommel, puin of afval); grasbrande (dit begin gewoonlik in oop gebiede met droë plantegroei, veral tydens warm en droë weersomstandighede, en kan verskeie bronne insluit, soos vonke van masjinerie, weggegooide sigarette, ens.); of strukturele brande (dié wat binne geboue, wonings of ander mensgemaakte strukture uitbreek as gevolg van ’n wye reeks oorsake, soos elektriese foute, kookongelukke, foutiewe bedrading, gaslekke en dies meer).”
Esau meen dit is belangrik om daarop te let dat die oorsake van brande nie altyd vasgestel kan word nie.
“Die oorsake wissel en sluit in elektriese kortsluitings, nalatigheid, ongelukke en in sommige gevalle selfs brandstigting.
“Indien brandstigting vermoed word, word die voorval deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ondersoek.
“Brandveiligheidsbewustheid is elke inwoner se persoonlike verantwoordelikheid. Die publiek moet asseblief kennis neem van die volgende noodsaaklike veiligheidsmaatreëls wat hulle moet volg. Dit sluit in elektriese bedrading en toerusting, wat altyd aan die nodige veiligheidsvereistes moet voldoen omdat onwettige koppelings ’n hoë risiko vir brande is. Oop vure moet onder geen omstandighede sonder toesig gelaat word nie, Rommel rondom wonings verhoog die kanse dat brande na ’n aangrensende eiendom versprei.”
Esau doen ’n beroep op inwoners om die volgende stappe te volg in die geval van ’n brand wat uitbreek:
. Indien ’n brand ontstaan, moet onmiddellik alarm gemaak word en die munisipaliteit se brandweerdienste moet by 021 872 2323 gekontak word.
. Alle betrokkenes moet in kennis gestel word van die brand en die gebou moet onmiddellik ontruim word.
. Help enige ouer mense of mense wat moeilik beweeg om na veiligheid te kom.
. Mense moet onder geen omstandighede weer terugbeweeg in of na enige gebou wat brand nie.
Kontak die DFW by 084 752 8120.





