Een van die seuns wat aangerand is, lê Sondagmiddag op ’n grasperk, met besorgde inwoners en die polisie teenwoordig.Foto: Drakenstein-plaaswag (DFW)

Credit: SYSTEM

Die landbougemeenskap langs die Keerwederpad in die Paarl is woedend nadat vier seuns die afgelope naweek aan die voet van Du Toitskloofpas aangerand is.

Twee van die seuns het ernstige beserings opgedoen.

Toe die nuus Sondag op sosiale media gedeel word dat vier seuns in die omgewing glo ontvoer en gemartel is, het dit skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.

Die nuus het baie mense lelik ontstel en baie het hul kommer uitgespreek.

Paarl Post kon sedertdien met ’n inwoner na aan die slagoffers gesels, wat bevestig het twee van die seuns is wel ernstig aangerand, maar nie ontvoer nie.

Volgens Jolene Orsen, ’n inwoner op een van die plase in die gebied, het die vier seuns Sondagmiddag besluit om te loop tot by Lekker Water, ’n plek aan die voet van die Du Toitskloofpas, waar mense gereeld afkoel, om te gaan swem.

Die vier seuns is tussen 12 en 18 jaar oud.

“Toe hulle by Lekker Water kom, was mense wat gereeld in die berg bid, reeds daar. Die seuns het hulle toe gevra of hulle maar kan gaan swem en die mense het ja gesê.

“Die seuns vertel een van die mans het meteens een van die seuns uit die water geroep en hom begin slaan. Twee van die seuns het daarin geslaag om weg te kom om hulp te gaan soek.

“Soos ons verstaan, was dit drie mans wat die kinders so geslaan het. Hulle het die kinders met paaltjies geslaan en hul koppe in die water gedruk.

“Die aanranders het glo ook probeer om ’n groot klip op een van die seuns se kop te gooi, maar hy het gelukkig gekeer, toe val dit op sy maag.

“Die mans beweer die seuns het ’n handsak en ’n selfoon gesteel – terwyl die seuns heeltyd in die water was.

“Wat my en baie van die inwoners hier ongelukkig maak, is die feit dat hierdie saak nie deur die polisie ernstig opgeneem is nie.

“Toe ons nog op soek was na die ander twee seuns en hulle uiteindelik gekry het, het die seuns vir die polisie by Lekker Water gaan uitwys watter mans dit is wat hulle so aangerand het, maar die polisie het absoluut niks gedoen nie.

“Die mans is nie eens in hegtenis geneem of uitgevra nie.”

Orsen het bevestig die seuns is in die Paarl-hospitaal opgeneem weens verskeie beenbreuke wat hulle opgedoen het.

“Die een seun se arm is op drie plekke gebreek. Dokters moes opereer om ’n ysterplaat in sy arm te sit,” sê Orsen.

Die Drakenstein-plaaswag (DFW) het eerste op die voorval reageer en die seuns se toestand ondersoek voordat hulle hospitaal toe geneem is.

Kapt. Louise du Plessis, ’n woordvoerder van die Paarl-polisie, sê hulle ondersoek klagtes van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Hoewel polisiebeamptes op die toneel was, het Du Plessis bevestig die beamptes is nie verbonde aan die Paarl-polisiekantoor nie.

“Die Paarl-polisie is eers na die Paarl-hospitaal ontbied, waar die seuns met ernstige beserings gevind is en die klagtes afgeneem is.”

Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.

. The farming community along the Keerweder Road in Paarl is furious after four young boys were seriously assaulted at the foot of Du Toitskloof Pass at the weekend.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article