Theresia Francke (53) deel elke oggend voor werk ’n Afrikaanse woord met haar kollegas.Foto: Liezl Davids


Baie werksplekke se personeel begin hul werksdag met ’n sekere roetine – ’n vinnige koffie saam voor inkloktyd of ’n gebed, terwyl ander maar net inval.

Die personeel van OK MiniMark in Denneburg begin die dag met ’n Afrikaanse woord – een wat hul kollega, Theresia Francke (53), vir hulle gee en die betekenis daarvan verduidelik.

Francke, ’n ma van twee, werk in die bakkery en vertel sy is passievol oor haar taal, Afrikaans.

Sy glimlag breed toe sy vertel van herinneringe van Afrikaans uit haar kinderdae en hoe sy en haar jongste broer saam met hul ma werk toe gegaan het en na Afrikaanse stories op die radio geluister het.

Haar ma het op ’n plaas in Simondium, waar hulle gewoon het, in die wingerd gewerk.

“My ma was die voorvrou. Sy het altyd die draadloos op haar rug gedra en so daarmee werk toe gestap. Destyds was dit Springbok-radio en ons het altyd presies geweet wanneer die stories begin. Dan blaas sy die fluitjie en sê ‘kom ons gaan nou eet’, dan luister ons vir daardie halfuur na Wolwedans in die Skemer,” onthou sy.

“Afrikaans is my kleurryke rykdom,” vertel Theresia passievol.

Sy sê die instelling om soggens ’n Afrikaanse woord met haar kollegas te deel, het begin met die hulpbestuurder, Roline Watson, wat haar elke dag vir ’n Afrikaanse woord gevra het.

“Mev. Watson, wat in die kantoor werk, het altyd vir my ’n Afrikaanse woord gevra, dan gee ek sommer net so uit die bloute vir haar ’n Afrikaanse woord. So het dit elke dag ’n roetine geraak. Of die bestuurder, Jo-Anne Fredericks, sou my ’n Afrikaanse woord gee en dan moes ek die betekenis aan haar verduidelik.”

Nadat Watson ’n gemeentelid by haar kerk, Willem Botha, vertel het van Francke se passie vir Afrikaans, het Botha Paarl Post gekontak.

Botha is die hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.

“Mnr. Botha het gesê ek moet my eie boek skryf. Ek gaan probeer. Hy het gesê ek moet net begin skryf en die res sal volg.”

Francke sê sy sal baie graag ’n boek van haar eie wil skryf – oor haar kinderjare en lewe tot nou – en sy meen die boek moet vooruitgang as tema inhou.

“My Afrikaans kom van baie diep binne my. Die eerste Afrikaanse liedjie wat ek gesing het, was toe ek nog op laerskool was – ‘Saai die waatlemoen’.

“Ek was die voorsanger en ons het daardie jaar die tweede plek by die Eisteddfod gekry,” glimlag Francke.

Sy sê wanneer sy saans by die huis kom, sê haar seun vir haar man dat sy tuisgekom het en dan moet die televisie na ’n Afrikaanse kanaal oorgeskakel word.

Volgens Francke weet die familie ook al dat sy by hul familie-byeenkomste Afrikaanse liedjies van onder andere Sonja Heroldt, Rina Hugo en Bok van Blerk gaan sing.

Watson verduidelik dat dit vir haar altyd lekker is om ’n Afrikaanse woord by Francke te hoor en sy het juis vir Botha van haar vertel omdat sy so passievol is oor die taal.

“Ons geniet dit nogal om elke dag ’n woord te kry en ons is nuuskierig om te weet wat die woord gaan wees.

“Selfs my suster, wat in Kuilsrivier woon, vra my gereeld wat die woord vir die dag is, en dan moet ek dit met haar deel,” vertel Watson.

Fredericks sê op haar beurt weer die Afrikaanse woord wat Francke soggens met hulle deel, is vir haar soos ’n opkikkertjie. Sy sê sy sien ook daarna uit om te hoor wat die Afrikaanse woord van die dag is.

Volgens Francke is sy baie dankbaar teenoor Fredericks en Watson, omdat hulle haar altyd ondersteun en motiveer oor haar liefde vir Afrikaans.

“Ek sê vir jou, Afrikaans sal nooit by my sterf nie en terwyl ek leef, gaan Afrikaans nie sterf nie. Ek is mal oor Afrikaans.”

Francke vertel dat selfs die taxi-bestuurder saam met wie sy soggens werk toe ry, weet van haar en haar Afrikaanse woorde en hy het selfs een oggend aangebied om ’n woord met haar te deel. “Sy woord was ‘kattekwaad’,” lag Francke.

Haar begeerte is om eendag besoek by die Afrikaanse Taalmonument en -museum af te lê. “So oud soos ek hier is, was ek nog nooit daar nie. Ek wil so graag net ons geskiedenis sien.”

*A worker at a convenience store in Paarl shares an Afrikaans word with her colleagues every morning.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article