Wat is Januarie sonder die beroemde en geliefde The Rockets by die ikoniese Taalmonument op die Paarlberg?

Ná nog ’n erg onvoorspelbare jaar is dit gerusstellend dat hulle weer eens optree om die somer en nuwe jaar behoorlik te vier. As jy nog nie dié energieke popgroep in lewende lywe aanskou het nie, is Vrydag 28 Januarie ’n aand wat jy nie kan misloop nie, en as jy hulle reeds ken, is geen aanmoediging nodig nie. Hul konsert is boonop deels ten bate van die Laat ons Lees!-geletterheidsprojek vir kinders, dus word besoekers versoek om enige kinderboeke vir hierdie doel te skenk.

The Rockets is meer as net ’n groep; hulle is inderdaad ’n musikale instelling. Hulle het al meer as drie miljoen kilometer gereis en voor miljoene aanhangers opgetree, en gaan voort om plaaslike sowel as internasionale verhoë aan die brand te sing met hul kleurryke, kompromislose en energieke optredes. Die groep is onder meer met ’n Ghoema-toekenning vir hul lewensbydrae vereer en hul uitverkoopte vertoning om hul 50ste verjaardag te vier, het ’n Safta-prys vir die beste musiekproduksie ontvang.

The Rockets het al talle CD’s die lig laat sien en is ou bekendes op menige radiostasie – die liedjies van hul jongste Afrikaanse album, Sonskyn, word ook gereeld gehoor. Oud en jonk is mal oor die strelende stemme van Jerry Watt (hoofkitaar), Donovan Dyers (baskitaar), Franko Speake (klawerborde), Ricardo Philander (tromme) en Manuel Losper (hoofsanger) terwyl hulle musiek, van die verlede tot die hede, tot harmonieuse lewe bring.

Die vertoning begin om 20:00 in die Tuinteater – net betyds vir ’n pragtige sononder – op die sagte grasperk aan die voet van die monument. Besoekers kan enige tyd tussen 17:00 en 22:00 kom piekniek hou en die monument, ’n simboolgelaaide beeldhouwerk sonder weerga, besigtig. Gaste word aangemoedig om die omgewing te verken en het ook toegang tot veilige parkering, ’n pendeldiens, buitelug-speletjies, kinderspeelparke asook ’n gedigte-uitstalling. Helaas word geen honde of vure toegelaat nie.

Besoekers is welkom om hul eie piekniekmandjies en drankies (geen glas) te bring of een vooraf by die ATM Koffiehuis via 082 216 2510 of mz@colegson.co.za te bestel – hierdie nuwe koffiewinkel sal ook verversings te koop aanbied tydens die geleentheid. Onthou warm klere, ’n kombers of kussing, flits asook ’n masker. Sien taalmuseum.co.za/covid-19/ vir die spesifieke protokol.

Kaartjies, wat na verwagting gou gaan uitverkoop, is by Computicket en die Taalmonument teen R120 vir volwassenes en R80 vir kinders onder 13 jaar beskikbaar. As kaartjies oorbly, sal dit van 17:00 af by die hek verkoop word. . Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article