Die geliefde kitaarspeler en leier van die bekende The Rockets, Jerry Watt, is gisteraand oorlede.
The Rockets het gisteraand op hul Facebook-blad aanhangers in kennis gestel van Watt se afsterwe.
Die inskrywing lei as volg: “Jerry Watt, leier van The Rockets, man, pa, seun, broer en oupa is vanaand oorlede omring deur familie. Hy het ’n dapper stryd tot die einde toe geveg. Sy nalatenskap sal vir ewig voortleef deur sy musiek. Ons gaan hom baie mis. Soos Jerry altyd gesê het “Let the music play”, sal The Rockets-afskeidskonserte voortgaan volgens sy wense.”
Vanoggend (Vrydag 10 Februarie) het medelye na sy dood op sosiale media ingestroom.
The Rockets het jaarliks gesorg dat Paarliete ook die jaar op ’n hoë noot afskop met hul gewilde optredes wat in Januarie by die Afrikaanse Taalmonument gehou word.
The Rockets het onlangs aangekondig dat hul die naweek hul laaste vertoning gaan aanbied, nadat Watt aangekondig het dat hy met kanker gediagnoseer is. Die kanker was reeds in ’n gevorderde stadium.





