Dit is noodsaaklik dat babas en kleuters hul spraak- en bewegingsmylpale bereik. Daar is nie noodwendig ’n probleem wanneer jou kind later as ander kinders kruip, loop of praat nie, maar dis altyd beter om ’n kenner te nader, sodat ontwikkelingsuitdagings so vinnig as moontlik opgelos kan word. Trish Goosen het met Janke van der Walt, ’n arbeidsterapeut, en met Yolandé Nieuwoudt, ’n spraakterapeut, gesels.

Janke van der Walt, arbeidsterapeut

“Die woord arbeid verwys na die werk wat iemand doen. ’n Kleuter se werk is om te speel, te leer en te oefen.

“Arbeidsterapie word dus gebruik om ’n kleuter te help om ‘sy werk’ goed en onafhanklik te doen. Hy moet optimaal kan funksioneer,” verduidelik Janke.

In haar sessiekamer spring kinders deur hoepels op matrasse, bou legkaarte, kruip deur ’n tonnel of wieg heerlik op ’n swaai wat uit die dak hang.

Kinders dink hulle speel te lekker as hulle Van der Walt besoek, maar eintlik is hulle besig om ’n baie belangrike grondslag vir ’n suksesvolle skoolloopbaan en volwasse lewe te lê.

Van der Walt spesialiseer in sensoriese integrasie. Elke kind maak inligting bymekaar deur sy vyf sintuie. Die brein moet leer om die inligting wat hy ontvang het, korrek te integreer en te verwerk. Indien sy sensoriese integrasie en die vermoë om reaksies te vorm, nie reg ontwikkel is nie, sal hy of sy gewoonlik oor- of onderreageer: ’n kleuter wat nie kan konsentreer met vreemde reuke in die lug nie, wat sy ore toedruk as daar geraas is, of wat oorweldig voel as iemand aan hom raak.

Volgens Van der Walt kan babas na ’n arbeidsterapeut geneem word wanneer hulle probleme met voeding of met hul slaappatrone toon.

“Die gevoel van ’n harde kombers onder sy lyfie mag hom pla, of sy mond is sensitief vir sekere teksture soos growwigheid of selfs gladde, sagte kosse,” verduidelik Van der Walt.

Terapie om die kind minder sensitief te maak, behels blootstelling aan speelgoed en hulpmiddels van verskillende teksture.

’n Arbeidsterapeut werk ook aan posturale stabiliteit.

Sterk maag- en rugspiere beteken’n kind kan regop sit en skryf, wat veral ’n invloed op sy latere skoolprestasie sal hê.

“Hoe vroeër ’n kind vir terapie gebring word, hoe beter,” sê Van der Walt.

“Dit beteken dat strategieë ingestel kan word om probleme op te los en daar is dan ’n skuif in die ouers en onderwyser se verwagtinge.”

Yolandé Nieuwoudt – spraakterapeut

’n Spraakterapeut is iemand wat spraak- en taalafwykings identifiseer, evalueer en behandel, asook tot die voorkoming daarvan bydra.

“As ’n kleuter nie sy spraak-mylpale haal nie, moet hy eerstens vir ’n gehoortoets gestuur word. As hy goed kan hoor, maar steeds met sy spraak sukkel, kan die probleem moontlik ouditiewe prosessering wees,” verduidelik Yolandé.

Ouditiewe prosesseringsprobleme beteken ’n kleuter kan hoor, maar sy maak nie sin van dít wat sy hoor nie.

Kleuters sal weens hierdie probleem moontlik nie met begrip na ’n storie kan luister nie en dit sal later in die kind se lewe tot lees-, skryf- en leerprobleme lei.

Ouditiewe voorgrond-agtergrond-differensiasie verwys na die vermoë om dit te selekteer waaraan ’n mens aandag wil gee en te ignoreer wat nie relevant is nie.

Kleuters met ouditiewe prosesseringsprobleme sukkel hiermee. Hierdie probleme kan met terapie en oefening reggestel word, maar in sommige gevalle is tegnologie die beste opsie.

Nieuwoudt sê ’n toestel wat uit gehoorstukkies vir die kind en ’n mikrofoon vir die onderwyser bestaan, word dikwels gebruik om kinders te leer om tussen voorgrond- en agtergrondklanke te onderskei.

“Hy kan met hierdie toestel op sy ouer se stem en instruksies fokus,” verduidelik sy.

Wanneer die gebruik van die toestelletjie uiteindelik gestaak word, het die kind se vermoë om te fokus op dit wat belangrik is gewoonlik aansienlik verbeter.

Spraak-taalagterstande kan weens chroniese oorinfeksies, ontwikkelingsagterstande (gestremdheid), outistiese spektrumafwykings of hiperaktiwiteit voorkom.

’n Gebrek aan blootstelling aan boekies en te veel tyd voor die televisie of met enige ander moderne skerm soos ’n tablet of selfoon kan ’n negatiewe uitwerking op spraakontwikkeling hê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article