Hugenote-kollege in Wellington het met trots bekend gemaak dat dr. Annette Potgieter aangestel is as die nuwe dekaan van die skool vir teologie en bediening.
Dr. Potgieter is sedert 2020 deel van die Hugenote-kollege-familie en het ook ’n groot rol gespeel in die vestiging van die aanlyn BTh-graadprogram.
Sy is ’n uitgelese navorser wat al drie boeke gepubliseer het. Sy het ook verskeie hoofstukke in akademiese boeke en artikels in wetenskaplike joernale geskryf.
Potgieter het in 2019 haar doktorsgraad in die Nuwe Testament (cum laude) by Humboldt-universiteit in Berlyn verwerf. Die boek gebaseer op haar tesis, Contested Body: Metaphors of dominion, is gratis op AOSIS se webwerf beskikbaar. Sy het ook die volgende grade aan die Universiteit van Pretoria verwerf: MTh Nuwe Testament (cum laude); MA Antieke tale en kulture (cum laude); MDiv (cum laude); BA (Hons) Antieke tale en kulture (cum laude) en BTh (cum laude).
Potgieter stel veral belang in die vroeë Christendom en hoe vroeë Christene hul geloof uitgeleef het. Dit vind neerslag in haar navorsing wat hoofsaaklik met metafoor-teorie en critical space theory in Pauliniese literatuur werk.
Sy het die leiding geneem met die aanbied van verskeie konferensies en het ook daarin geslaag om interdissiplinêre samewerking tussen teologie en maatskaplike werk te stimuleer met konferensies soos Rethinking resilience: Reflections on teaching, learning and health in a time of Covid-19.
Potgieter het ook al verskeie pryse gewen. As student het sy die vise-kanseliersmedalje gewen vir die beste voorgraadse student. Sy het ook die Desmond Tutu-Gerrit Brand prys ontvang vir die beste teologiese debuutboek vir haar breinbaba, Jong teoloë praat saam . . . oor God, gemeentes en geloof.
Volgens die kollege sien hulle uit na die bydrae wat “een van ons land se dinamiese jong teoloë kan maak en is oortuig dat sy haar baanbrekerswerk in aanlyn onderrig kan voortsit en uitbrei”.
Potgieter aanvaar haar nuwe pos op 1 September.





