Die Hoërskool Labori in die Paarl is een van die top- tegniese skole in die land en staan nie akademies terug nie.

Credit: SYSTEM

Die Drakenstein-vallei pronk met van die beste skole in die land, maar soms word sekere skole misgekyk.

Een van die eerste en beste tegniese skole in die land is vanjaar 90 jaar oud en staan vandag bekend as die Hoërskool Labori.

Elke ouer moet besluit na watter hoërskool hulle hul kind moet stuur en moet ’n ingeligte besluit tot voordeel van die kind neem. Dalk is jy ook een van die (baie) ouers wat dink ’n tegniese skool is die soort skool waarheen leerders wat akademies sukkel, gestuur moet word sodat hy of sy darem eendag ná skool werk kan kry.

Hierdie is egter baie ver van die waarheid af.

Tegniese skole is nie vir leerders wat akademies sukkel nie. Alle leerders wat tegniese vakke neem, moet twee van die moeilikste vakke wat enige skool kan aanbied, neem – wiskunde of tegniese wiskunde (wat ongeveer 70% van die moeilikheidsgraad van gewone wiskunde is) en tegniese wetenskappe (wat ongeveer 70% van die moeilikheidsgraad van gewone fisiese wetenskappe is).

Dit sal dus makliker wees vir ’n leerder wat akademies sukkel om in ’n nie-tegniese skool sy of haar gr. 12-sertifikaat te verwerf, omdat hy of sy minder uitdagende vakke kan neem. Voeg daarby dat die leerder ook nog IGO moet neem, waar hulle presiese drie-dimensionele konstruksies moet kan maak en dat hulle ’n belangstelling en aanleg in die tegniese rigting moet hê.

’n Mens wonder waarom die publiek praat van akademiese skole en tegniese skole – asof ’n tegniese skool nie ’n akademiese skool is nie.

Wat bied ’n tegniese hoërskool?

Eerstens berei ’n tegniese skool ’n leerder voor vir die tegniese wêreld, soos om ingenieurswese aan ’n universiteit, technikon of kollege te gaan studeer of ’n ambag te volg. Dit lei hom nie noodwendig op vir ’n ambag nie, maar stel hom daaraan bekend.

Dit lei hom ook nie op as ingenieur nie, maar berei hom daarvoor voor.

Dit is so dat ’n leerder wat wiskunde en fisiese wetenskappe by enige skool neem, toegang tot die ingenieurswese-kursus het, maar ’n leerder wat by ’n tegniese skool was, het die voordeel dat hy of sy reeds inleidende bekendstelling en opleiding in die een of ander ingenieursrigting ontvang het.

Hulle weet dus van dag een af waarvan die dosente praat terwyl ander studente al hierdie inligting vir die eerste keer hoor. Ambag- en vaardigheidskole berei leerders uitsluitlik vir ’n ambag voor en lei hulle daarin op. Dit moet nie met tegniese skole verwar word nie.

Indien die leerder nie verder wil of kan studeer nie – en kom ons wees eerlik hieroor, ons het heeltemal te min universiteite en kolleges om almal die kans te bied om verder te studeer – kan hy of sy dadelik ná skool inskakel by die talle werksgeleenthede wat die bedryf bied. Baie van hierdie firmas laat dan die leerder op die maatskappy se koste verder oplei sodat ’n hardwerkende mens binne ’n paar jaar sy of haar eie onderneming kan begin of moontlik ’n bestuursposisie kan beklee.

As u kind dus gereed is vir die uitdagings wat ’n ingenieursrigting bied, is ’n tegniese skool die plek waar hy of sy ’n regverdige voordeel kan kry.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article