Tuberkulose is een van die topvyf onderliggende siektes wat lei tot sterftes in die Kaapse Wynland Distrik, waarvan Drakenstein deel uitmaak.
Só sê Sandra Maritz, kommunikasiebeampte van die Wes-Kaapse Gesondheidsdepartement se Kaapse Wynlanddistrik, in die lig van Wêreld TB-maand wat elke jaar Maart herdenk word. Maritz beklemtoon dat die bekamping en behandeling van die lewensgevaarlike siekte ’n prioriteit vir gesondheidswerkers in die Drakensteingebied is.
“Personeel by klinieke stel hulle ten doel om vrae aan besoekers/pasiënte te vra om te bepaal of die persoon dalk ’n siekte soos TB kan hê, en indien nodig verder ondersoek in te stel.
“Provinsiaal het minder mense in 2020 na gesondheidsfasiliteite gegaan, wat beteken dat minder mense op hierdie manier gesif is vir TB. Daar is gevolglik die moontlikheid dat meer mense in die gemeenskap TB het, sonder om dit te besef.
“Dit beteken dat die virus makliker kan versprei. Ons doen moeite om TB te vind in gebiede waar ’n hoë voorkoms van TB in die gemeenskap is, soos by werksplekke, op plase en in woonbuurte.”
Volgens mayoclinic.org is TB ’n potensieel ernstige aansteeklike siekte wat deur bakterieë veroorsaak word en hoofsaaklik die longe affekteer. Daar is gevalle waar die siekte ook na ’n mens se brein en ruggraat kan beweeg en tuberkulose meningitis veroorsaak.
In 2019 het altesaam 58 000 mense in Suid-Afrika gesterf as gevolg van TB, aldus tbfacts.org.
Oor die algemeen sluit simptome van TB in ’n aanhoudende hoes, bloed wat uitgehoes word, pyn op die bors, erge moegheid, gewigsverlies sonder rede en erge sweet snags.
Maritz verduidelik dat dit baie belangrik is om jong kinders te immuniseer en om onder meer met goeie gesonde gewoontes saam te leef om die verspreiding van die siekte te voorkom.
“Voorbeelde hiervan is om altyd in jou gebuigde arm te hoes, vensters en deure oop te maak vir vars lug, om medisyne te neem soos jou gesondheidswerker aanbeveel, en kliniek toe te gaan as jy langer as twee weke hoes.”
Die Wes-Kaapse departement van gesondheid moedig inwoners deur hul TB-beheerprogram verder aan om vir TB getoets te word as hulle vermoed dat hulle die siekte opgedoen het of enige simptome toon. TB word gediagnoseer deur twee sputummonsters by ’n pasiënt te neem. Sputum is ’n dik slym wat van die longe kom. Tydens ’n TB toets word pasiënte gevra om diep asem te haal en te hoes in ’n houer. Die sputum word dan by ’n laboratorium getoets, waarvan die uitslae binne 48 uur beskikbaar is, sê die provinsiale gesondheidsdepartement.
“Indien die resultaat positief is, sal die pasiënt berading ontvang en onmiddellik met behandeling begin word. ’n X-straal kan ook geneem word. Indien die TB-infeksie ernstig is, kan die pasiënt na ’n spesialis-TB-hospitaal verwys word.
“TB kan genees word as die volle kursus van behandeling voltooi word. Die duur van behandeling vir dwelm-sensitiewe TB is 6 maande, terwyl die duur van behandeling vir middel-weerstandige TB wissel van 9-18 maande. Dwelm-sensitiewe TB is baie meer algemeen as dwelm-weerstandige TB.”
Sr. Janine Bosch, assistent-bestuurder van die Paarl-omgewing vir Wes-Kaap gesondheid en welstand, meen almal se optrede is belangrik in die voorkoming en behandeling van TB.
“Ons is hier om jou te ondersteun. Saam kan ons ’n verskil maak. Jy kan die persoon in jou huis wat TB het, aanmoedig om sy behandeling te voltooi. Dan het hy ’n beter kans om gesond te word, en almal in jou huis is veilig teen die virus.”
Maritz vra dat inwoners hul naaste kliniek kontak of besoek vir verdere inligting oor TB.
- Tuberculosis is one of the top five underlying diseases leading to death in the Cape Wineland District, of which Drakenstein is a part.




