Die B97-taxiroete, waaroor taxi-verenigings oor eienaarskap baklei, is van verlede Donderdag (26 Mei) af vir ’n verdere vier maande gesluit.

Die Wes-Kaapse minister vir mobiliteit, Daylin Mitchell, het dié aankondiging verlede week gedoen.

Hy het gesê die rede hiervoor is die voordurende spanning tussen die botsende taxi-verenigings Paarl Alliance Taxi Association (Pata), wat by Codeta geaffilieer is, en Cata Boland, wat albei aanspraak maak op regte om die B97-roete te beheer.

Hy sê sedert die sluiting van die roete word steeds moord gepleeg en gewelddadige voorvalle kom voor, wat toegeskryf kan word aan die konflik tussen Cata en Codeta. Dit is hieroor dat die verdere sluiting dus nodig is om die situasie te stabiliseer.

Golden Arrow-busritte tussen Bellville en die Paarl bly in werking om pendelaars te vervoer.

Mitchell voeg by hy verwag die verlengde sluiting van die B97-roete sal help om die huidige relatiewe stabiliteit in die openbare vervoeromgewing te onderhou.

  • Hy sê ook hy hoop sy besluit sal blywende vrede rakende die roete ondersteun.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article