Pendelaars regoor die Wes-Kaap moet hulle gereed maak vir die taxis wat Woensdag (22 Februarie) staak. Foto: Chantélle Hartebeest


Taxi-operateurs van oor die Wes-Kaap heen gaan Woensdag (22 Februarie) voort om te staak.

Volgens die SA Nasionale Taxiraad (Santaco) sal hulle oor ’n paar kwessies hul dienste vir ’n dag tot stilstand bring. Taxi-operateurs voel dat hul voertuie daagliks onregverdig geskut word, dat bestaande minibus taxi-operateurs nie gewettig word nie, en dat daar glo onregverdige voordele gegee word aan die Golden Arrow-busdiens op die B97-roete tussen Mbekweni en Bellville.

Taxi’s het voorheen alleen gewerk op die B97-roete. ’n Bakleiery tussen die twee taxiverenigings, Cata en Codeta, oor eienaarskap oor die roete het tot taxigeweld gelei en baie mense het hul lewens in die proses verloor.

Die voormalige Wes-Kaapse LUR vir mobiliteit, Daylin Mitchell, was toe genoodsaak om die B97-roete vir taxi’s einde Julie 2021 te sluit.

Die Golden Arrow-busdiens het toe begin werk op die roete as ’n tydelike oplossing om pendelaars tussen Paarl en Bellville te vervoer.

Na verskeie onderhandelinge en selfs ’n arbitrasieproses het die twee taxiverenigings ooreengekom om saam te werk op dié roete. Die B97-roete is op 8 Desember verlede jaar heropen.

Golden Arrow het egter reeds voor die heropening van die roete op sy Facebook-blad die nuus gebreek dat sy dienste tussen Paarl en Bellville op 23 Desember tot ’n einde sal kom.

Derick Meyer, Golden Arrow se algemene bestuurder, het intussen op die busdiens se Facebook-blad ’n amptelike verklaring uitgereik oor Santaco se staking, en die “onwaarhede” dat die busdiens steeds op die B97-roete werk.

“Ons het opgehou om meervoudige reiskaartjies te verkoop in die weke voor die dienskansellasie wat amptelik op 23 Desember 2022 plaasgevind het. Terwyl ons nie meer die B97-roete bedryf nie, bedryf ons wel ’n aparte Wellington na Kaapstad diens wat ons in Desember 2020 ingestel het, waarvoor ons al die nodige toestemmings en bedryfspermitte het. Ons sal nie ophou om op hierdie roete te werk as gevolg van afknouery en vals inligting nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article