Dit is reeds vier maande nadat die kleuter Tamia Botha vermoor is en haar lyk op die perseel van ’n skool in Paarl-Oos gestort is.
Asof die hartseer wat haar ouers, Udene Botha en Gideon Thys, elke dag moet trotseer nie genoeg is nie, is geen verdagte tot op hede vir die vierjarige se moord in hegtenis geneem nie.
Tamia is laas op 25 September 2022 gesien toe sy voor haar woning in Daphnestraat, Paarl-Oos, gespeel het. Ná ’n uitgebreide soektog in die gebied waar die meisietjie vermis geraak het, is haar lyk die volgende dag in lang gras op die terrein van Nederburg Primêr gevind.
Die plaaslike polisie het bevestig dat Tamia sigbare wurgmerke aan haar nek gehad het.
Die familie van Tamia het kort ná haar dood die organisasie sonder winsbejag Action Society gevra om as woordvoerder vir hulle op te tree.
Ian Cameron, die organisasie se direkteur van gemeenskapsveiligheid, sê dat hulle meer as een keer die provinsiale polisie sowel as die polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe (GKS) genader het in verband met die ondersoek, maar tot dusver is nog geen formele terugvoer ontvang nie.
“Ons het ’n wetlike mandaat gekry deur die familie, maar ons is steeds terugvoer geweier. Ons voel as die polisie nie vordering in hierdie saak maak nie, dan moet hulle dit met die familie en gemeenskapslede kommunikeer. Hulle verdien deursigtigheid en eerlikheid, want wie se kind gaan dit volgende wees? Die verdagte is steeds daar buite,” voeg Cameron by.
Kapt. Frederick van Wyk, Wes-Kaapse provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig die ondersoek is aan die gang en dat daar nog geen nuwe verwikkelinge in die saak is nie.
- It has been four months since the toddler Tamia Botha from Paarl East was murdered and her body dumped. No arrests have been made.





