Drakenstein-munisipaliteit kry tussen 200 en 300 instandhoudingsklagtes oor munisipale woonstelle per maand.Foto: Lise Beyers


’n Inwoner van Bougainvillea-woonstelle in Paarl-Oos sê hy en sy bure voel al moedeloos oor die toestand van die munisipale woonstelle waarin hulle woon.

Joey Abrahams vertel dat hy en ander inwoners reeds die afgelope twee jaar vir die Drakenstein-munisipaliteit vra om instandhoudingswerk by dié woonstelle te doen.

“Daar is deure wat vervang moet word, die vensters val uit die rame uit, want daar is niks wat dit meer in die raam vashou nie, toilette is stukkend, maar niks word hieraan gedoen nie. Elke keer moet ons hoor ‘die stoor is leeg’,” sê Abrahams.

Hy vertel dat hulle self in hul woonstel sowat ’n maand gelede met die toilet probleme ervaar het, waarna hy die munisipaliteit in kennis gestel het.

“Hulle het kom kyk en die spoelbak van die toilet uitgehaal en gesê hulle moet dit vervang. Dit is meer as ’n maand later en niemand was nog weer daar nie. Ons moet nou emmers water gebruik om die toilet te spoel. Dit is glad nie lekker om so te moet lewe nie.”

Volgens Abrahams was hy verlede Vrydag weer by die munisipale kantoor om te hoor wanneer iemand die toilet gaan regmaak en hy sê hy is weer net gesê dat daar nie voorraad is om die toilet reg te maak nie.

Abrahams meen ook dat daar nou al so baie instandhoudingswerk by die woonstelle gedoen moet word en dat die munisipaliteit nie hul verantwoordelikhede teenoor die huurders nakom nie.

Paarl Post het al voorheen klagtes ontvang van huurders van ander munisipale woonstelle oor trappe wat ook onveilig is, plafonne wat vervang moet word en dakke wat lek tydens winter.

Volgens Jacqui Samson, uitvoerende direkteur: beplanning en ontwikkeling, by Drakenstein-munisipaliteit, bestuur die munisipaliteit se huurafdeling 2 873 huureenhede en hanteer hulle gemiddeld tussen 200 en 300 instandhoudingsklagtes per maand.

Sy verduidelik die klagtes sluit ’n wye reeks van instandhoudingsaangeleenthede in, soos kraan-, deur- of toiletvervangings, lekkasies ensovoorts.

“Inspeksie van klagtes vind binne 72 uur ná aanmelding plaas. Noodklagtes word dadelik hanteer. Weens die reuse-getal klagtes of vervangings is dit nie altyd prakties moontlik om te alle tye genoegsame voorraad aan te hou nie en word tekorte soms weens die groot aanvraag ervaar,” verduidelik Samson.

Volgens Samson word voorraad aangekoop volgens voorgeskrewe finansiële riglyne en praktyke. Sy sê sodra voorraad beskikbaar is, word instandhoudingswerk onmiddellik uitgevoer.

“Wat betref hierdie spesifieke klag (spoelbakvervanging), is die nodige inspeksie uitgevoer en is die klaer dienooreenkomstig ingelig dat dit verder aandag sal geniet sodra die nodige spoelbak ontvang word.

“Intussen is daar nou voorraad beskikbaar en sal daar met die klaer gereël word vir die uitvoering van die nodige herstelwerk.

“Die huurafdeling voer ook jaarliks inspeksies uit ten einde kritiese items te identifiseer en te hersien vir opname in die afdeling se jaarlikse instandhoudingsplan. Uit hierdie plan word verskillende instandhoudings­pro­jekte vir implementering geïdentifiseer.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article