Met die Bergrivier wat die afgelope week behoorlik sy walle oorstroom het en gevolglik oorstromings veroorsaak het, moes talle haweloses wat dikwels naby die rivier of onder brûe slaap elders skuiling soek.
Volgens Gerald Esau, uitvoerende direkteur: gemeenskapsdienste by Drakenstein-munisipaliteit, het die munisipaliteit toevlug aan 52 haweloses gebied.
Esau verduidelik dat die munisipaliteit reeds van verlede Woensdag, 14 Junie, begin het om hawelose mense te nader om vir hulle skuiling aan te bied.
“Munisipale beamptes het deur die Paarl en Wellington se dorpsgebiede gestap om vas te stel hoeveel mense geaffekteer word en gewillig is om verskuif te word ten tyde van die ongure weer. Daar was heelwat teensinnigheid om geskuif te word.”
Volgens Esau het altesaam 52 hawelose mense wel ingestem om na munisipale-geboue in die Paarl en Wellington, wat tydelik as skuiling ingerig is, geskuif te word.
“Die munisipaliteit het kos (drie warm maaltye), komberse, matrasse en ander benodigdhede aan die hawelose mense in die Paarl en Wellington verskaf. Die munisipaliteit het ook aan die haweloses reënjasse voorsien.”
Volgens Esau het die publiek en ander organisasies skenkings gemaak wat ook aan haweloses gegee kon word.
“Sommige haweloses wou nie skuif nie, en die munisipaliteit het aan hierdie mense plastieksakke gegee om hulleself asook hul besittings te beskerm.”





