’n Voorstelling van hoe Starlink van nader lyk.Foto:

Credit: SYSTEM

Is dit ’n voël? Is dit ’n vliegtuig? Nee, dis Elon Musk se string satelliete!

Inwoners wat die naweek vreemde ligte in die hemelruim gesien het, het energiek op sosiale media oor die oorsprong daarvan gedebatteer.

’n Paar mense het hul foto’s van die verskynsel op Facebook geplaas en met die vreemdste verduidelikings vorendag gekom.

Mense wat die “ligte” gesien het, het gesê dit het gelyk soos ’n helder string pêrels wat deur die naglug verskiet het.

Iemand het tong in die kies gesê dis buiteruimtelike wesens, terwyl ander spottenderwys gesê het die volgende vlaag van die koronavirus word al weer in die nag versprei.

Paarl Post het ook verskeie boodskappe ontvang van lesers wat vra wat die vreemde ligte in die hemelruim kan wees wat so kom en gaan.

In alle waarskynlikheid is hierdie ligte Elon Musk se Starlink-satelliete wat vroeg in Februarie in die hemelruim opgeskiet is.

Foto’s en video’s van die ligte verskyn die afgelope weke gereeld op sosialemediablaaie van oor die Boland, die Overberg en Noord Kaap.

Volgens ’n aanlyn BBC-berig van 9 Februarie het ’n geomagnetiese storm die aarde op 4 Februarie getref en 40 van 49 satelliete van die maatskappy SpaceX uit hul wentelbaan gegooi. Die 49 satelliete is net die dag vantevore van Cape Canaveral in Florida, VSA, bo die aarde se oppervlak ontplooi.

Die geomagnetiese storm wat die satelliete beïnvloed het, is dieselfde soort meganisme wat die Noorderlig (Aurora Borealis) skep, maar dit kan ook gevaarlike gevolge hê.

Hierdie storm het die atmosfeer warm en baie digter gemaak as wat verwag is.

SpaceX het in ’n verklaring gesê dis ’n “unieke situasie”.

As gevolg van die storm sou soveel as 40 van die nuwe satelliete “die aarde se atmosfeer weer binnegaan of het dit reeds weer binnegegaan”, het SpaceX gesê.

Hierdie satelliete was kwesbaar omdat hulle in ’n lae wentelbaan, tussen 210 en 240 kilometer, gelanseer is, waar die atmosfeer digter is, wat die uitwerking van die storm erger gemaak het.

Die satelliete is bedoel om ioonstuwers aan boord te gebruik om hul wentelbane oor etlike weke stadig tot 550 kilometer te verhoog. Die satelliete wat reeds in hierdie hoër bane was toe die storm getref het, is minder geraak omdat die atmosfeer op daardie hoogte baie dunner is, en dus is die weerstand minder.

Volgens SpaceX is die satelliete ontwerp om heeltemal in die atmosfeer uit te brand, “wat beteken dat geen afval geskep word nie en geen satellietdele die grond sal tref nie”.

Die satelliete sou binne die bestek van twee weke ná die storm weer die atmosfeer binnekom en uitbrand.

Die finansiële verlies van die mislukte ontplooiing word op tussen $50 miljoen en $100 miljoen (R773 760 000 en R1 547 520 000) geraam.

SpaceX stuur al sedert 2019 satelliete die ruimte in. Starlink is die miljardêr, die gebore Suid-Afrikaner Elon Musk, se projek om laekoste-internet aan afgeleë liggings te voorsien.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article