Die Afrikaanse Taalmuseum en – monument (ATM) se gewilde Taaldagviering fokus vanjaar, via ’n gratis paneelgesprek Vrydag 12 Augustus, op die beroemde skrywer C.J. Langenhoven se berugte bewering dat Afrikaans die enigste “witmenstaal” is wat buite Europa sou ontstaan het.

Ter ere van Vrouemaand is al die deelnemers aan dié geleentheid, in samewerking met die Historium Trust en Langenhoven-gedenkfonds, vroue wat deskundiges op uiteenlopende taalgebiede is. Een is boonop ’n agterkleinkind van Langenhoven, wat 90 jaar gelede die tydelike met die ewige verwissel het. Die ATM-raadsvoorsitter en literatuurkenner Jean Meiring sal as fasiliteerder dien vir die gesprek tussen Willemien Brümmer, Anastasia de Vries, Jo-Mari Anne Nel en Eureka Barnard wat die vergrootglas op Afrikaans se wortels en die afgelope eeu se taalverwikkelinge en -politiek sal rig. Gaste sal daarna vrae aan die paneellede kan stel.

Brümmer is ’n bekroonde skrywer en joernalis wat ook al heelwat navorsing oor haar oupagrootjie gedoen het. De Vries is ’n bekende joernalis, rubriekskrywer en lektor wat gereeld oor die versweë geskiedenisse van Afrikaans skryf. Nel is ’n parlementêre taalpraktisyn wie se kortverhaalbundel Stof van die Richtersveld vanjaar gepubliseer is. Barnard is ’n museum- en taalkenner, en die direkteur van die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere.

Hoewel Afrikaans nie ’n spesifieke geboortedag of -plek het nie, word die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners op 14 Augustus 1875 (in wat nou die Taalmuseum in die Paarl is) as Taaldag gevier omdat hierdie gebeurtenis uiteindelik tot die erkenning van Afrikaans as ’n amptelike taal gelei het.

Die geleentheid neem om 18:00 vir 18:30 ’n aanvang in die Historiumgebou, Pastorielaan 11, Paarl, en verversings sal voorsien word. Bywoning is gratis, maar besprekings via bemarking2@taalmuseum.co.za of 021 863 0543 teen 11 Augustus is noodsaaklik. Die hele gesprek sal opgeneem en later aanlyn beskikbaar gestel word, terwyl Nel se boek ook te koop aangebied sal word.

Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article