In ’n onlangse plasing op sy Facebook-blad het die sanger Steve Hofmeyr vir sy 661 000 followers ingelig “noudat ons weet dat die Taalmonument nie ons vriend is nie, skuif ons na Welbedacht Estate in Wellington.”
Volgens Hofmeyr was hy veronderstel om by die Taalmonument op te tree in Februarie volgende jaar maar dis gekanselleer “want die kommunistiese strukture wat baasspeel oor ons kultuur bepaal nie ons liefde vir Afrikaans nie. Die Taalmonument, waarvoor ek baie lief was, sien my nie weer nie,” verduidelik Hofmeyr se plasing.
Volgens Michael Jonas, die direkteur van die Afrikaanse Taalmuseum en monument (ATM) sou ATM nooit in Februarie as gasheer vir ’n konsert of kunstenaar optree nie.
“Dit kon dus nie en het nooit ’n konsert gekanselleer nie. Wat wel gebeur het, is dat die ATM in Julie 2022 ’n huurkontrak met De Villiers National Cycling aangegaan het om die Amfiteater-perseel buite Paarl te verhuur vir ’n geleentheid wat deur daardie maatskappy aangebied sou word (en waar Steve Hofmeyr sou optree). Die kontrak was tussen daardie twee partye. Anders as om toe te laat dat die Amfiteater gebruik word, sou die ATM op geen wyse deel gewees het van die geleentheid nie,” sê Jonas.
Hy verduidelik in die huurkontrak is ’n aantal bedinge deur die partye ooreengekom dat die organiseerder nie moes voorgee dat die konsert deur die ATM gereël is nie en dat dit vooraf alle bemarkingsmateriaal aan die ATM moes voorlê vir goedkeuring.
“Van meet af het De Villiers National Cycling egter daardie kontrakbedinge verbreek. Ondanks herhaalde versoeke van die ATM dat die kontrak eerbiedig word, het De Villiers National Cycling dit nie gedoen nie. Daarom het die ATM, in September 2022, die reg wat dit behoudens die kontrak had uitgeoefen om die organiseerder formeel aan te maan om die kontrak te eerbiedig deur die kontrakbreuk aan te suiwer. Die organiseerder het versuim om dit te doen. Derhalwe het die ATM, soos dit geoorloof was om te doen, die kontrak gekanselleer.”
De Villiers National Cycling het toe die hooggeregshof (die Wes-Kaapse afdeling in Kaapstad) genader om ’n verklarende bevel dat die kansellasie onwettig en nietig is en vir ’n interdik dat die ATM die konserte moet laat voortgaan.
“Die aangeleentheid, onder saaknommer 16294/2022, is op 29 November voor regter LG Nuku aangehoor, wat op 13 Desember bevind het dat die ATM geregtig was om die kontrak te kanselleer. Die regter het daarom nóg die verklarende bevel uitgevaardig, nóg die interdik toegestaan, en die aansoek met koste van die hand gewys,” voeg Jonas by.
In ’n ander plasing op Facebook het Hofmeyr sy aanhangers aangemaan om sy konsert op 4 en 5 Februarie by Welbedacht Estate in Wellington te ondersteun. “As jy die Afrikaanse Taalmonument se voorskrifte verwerp – ek is daar verban vir iets – kom geniet daardie konsert by die skilderagtige Welbedacht Estate,” lees Hofmeyr se plasing.





