Gert Strydom, wat ook as Wessel en Piet Strydom bekendstaan. Foto: Argief


’n Beweerde swendelaar wat die Drakenstein-vallei die afgelope paar maande geteister het, is op 21 September vasgetrek nadat hy sowat R31 000 by Paarlse plaaseienaars gesteel het.

Dit is volgens kapt. Louise du Plessis, woordvoerder van die Paarl-polisie.

Die vermeende swendelaar, genaamd Gert Strydom, maar wie ook as Wessel en Piet Strydom bekendstaan, is so ver bronne se kennis strek sedert Desember 2023 in die Drakenstein en spesifiek in die Paarl gewaar, waar hy veral bejaardes teiken.

Volgens ’n bron is Strydom aangestel om ’n elektriese heining om ’n plaas buite in Noorder-Paarl op te knap. Die eienaars het hom R31 000 betaal, waarna hy blykbaar spoorloos verdwyn het.

’n Klagte is daarna by die Paarl-polisie aangemeld, waarna Strydom in hegtenis geneem is nadat ’n burgerlike inhegtenisname, deur die plaasbestuurder uitgeoefen is.

Die Paarl-landdroshof het bevestig dat Strydom in aanhouding sal bly tot sy volgende hofverskyning op 8 Oktober.

Die Paarl Post het reeds in Julie vanjaar oor sy beweerde onwettige aktiwiteite berig.

Hy het homself as ’n kontrakteur onder die vaandel van verskeie maatskappye voorgedoen.

Ander gebiede waarvan die Paarl Post kennis dra waar Strydom ook na bewering met gesteelde geld spoorloos verdwyn het, sluit in Gauteng, Struisbaai, Stellenbosch asook dele van Kaapstad, soos Parow, Monte Vista en Plumstead.

Volgens ’n Paarlse sakeman, wat Strydom in Desember 2023 in diens geneem het en nie sy naam genoem wil hê nie om sy onderneming se reputasie te beskerm, het hy talle klagtes oor Strydom se diens ontvang.

Die twee se paaie het uiteindelik in Februarie vanjaar geskei toe die eienaar Strydom afgedank het weens die beweerde swendelaar se onwettige aktiwiteite tydens sy indiensneming by dié Paarlse konstruksie-onderneming.

Van die beweerde onwettige aktiwiteite sluit in ooreenkomste om sonpanele of omsetters te laat installeer, waarna die klante na bewering hul deposito’s, of in sommige gevalle die totale bedrag van die installeringsfooi, verloor het.

Ander gevalle sluit in waar Strydom hom glo as ’n rekenaartegnikus en -programmeerder voorgedoen het en daarna met die klante – onder andere ’n bekende fisioterapie-praktyk – se geld skoonveld is.

’n Paarlse inwoner wat tans in Gauteng woon en met wie die Paarl Post gepraat het, het Strydom aangestel om sy swembad te diens, maar is toe R21 000 kwyt nadat Strydom met die geld verdwyn het.

Volgens hom het Strydom ’n deposito gevra, waarna hy voorgestel het dat ’n nuwe swembadpomp ook aangeskaf moet word.

Toe die eienaar die geld oorbetaal, het Strydom na bewering egter daarmee verdwyn.

Kapt. Nowonga Sukwana, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie, het reeds op 2 Julie bevestig dat Strydom verskeie aanklagte (meer as 10) in die gesig staar “wat wissel van bedrog tot aanranding”.

Volgens Sukwana is baie van dié sake immers teruggetrek weens onvoldoende bewyse.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article