’n Kommerwekkende verandering word opgemerk in die gedrag van leerders vandat hulle weer voltyds terug is by die skool ná amper twee jaar se gebruik van ’n rotasiestelsel.
Paarl Post het met ’n paar onderwysers in die Paarl- en Wellington-omgewing gesels. Die meeste van dié onderwysers sê sommige leerders se gedrag het problematies verander, terwyl ander onderwysers nie juis enige groot veranderinge opgemerk het nie.
Letitia le Roux, hoof van die Laerskool WA Joubert, sê leerders se gedrag is meer positief. “Leerders is wel baie meer ‘passief’ en baklei fisiek min in ons skool. Sommige kinders is meer ‘aggressief’ met die mond en kan lelike dinge kwytraak. Hulle is nie meer humeurig as voorheen by ons skool nie. Hulle is soms meer sosiaal onbeholpe as gevolg van twee jaar se tekort aan sosiale ontwikkeling.”
Die departementshoofde van die grondslag-, intermediêre en senior fase by dié skool stem saam dat hulle gedragsprobleme oplet, maar dat dit nie meer as voorheen is nie. ’n Onderwyser by WA Joubert voeg by “hul luistervaardigheid” bestaan amper nie.
“Hulle sukkel baie om stil te sit en te luister as juffrou iets op [die] bord verduidelik. Aandagafleibaarheid het ook bitter erg toegeneem.”
Vir ’n onderwyser by die Laerskool Paulus Joubert is dit ’n groot aanpassing om al die leerders voltyds by die skool te hê. Sy sê die voltydse teruggaan skool toe het skielik leerders en onderwysers uit ’n reeds “nuwe normaal” – wens die pandemie – geruk en weer in ’n ander “nuwe normaal” gedruk. Sy wys daarop dat party leerders “verskriklike leeragterstande” het en baie kinders se dissipline afgeneem het.
“Baie leerders is ongehoorsaam en ja, daar is dié wat ’n bietjie meer aggressief is. Ek dink dit is omdat hulle nie baie struktuur gehad het toe hulle met die roterende skooldae meer by die huis was nie. Nou word hulle soort van beperk met hul doen en late en dit is vir hulle ook ’n aanpassing omdat hulle voorheen half ‘losgelaat’ is.”
’n Hoof by ’n hoërskool in Wellington stem saam leerders se gedragsprobleme het as gevolg van die uitwerking wat die pandemie op skoolgaan gehad het, verander. Hy sê dissiplinêre probleme by sy skool het toegeneem.
“Die leerders is bloot disrespekvol teenoor opvoeders asook nie-opvoeders. Hulle baklei ook meer. Dagga is ’n groot probleem. Die graad-agt-leerders gee die meeste probleme. Ek dink die rotasierooster wat die afgelope twee jaar gevolg is, is die rede vir die dissiplinêre probleme asook die groot klasse.”
By Orleansvale Primêr het boeliegedrag vermeerder, voeg Sohail Morris, die hoof, by.
Marisa le Roux, ’n fasiliteerder by Khula Development Group, ’n organisasie sonder winsoogmerk, sê sy kan bevestig onderwysers het hul hande vol weens gedragsprobleme in die skool. Die organisasie se missie is om ’n positiewe leerkultuur, hoë waarde van onderwys en klasbywoning te bevorder onder kinders wat die gevaar loop om die skool te verlaat. Khula werk saam met talle skole in die Drakenstein- en Stellenbosch-munisipaliteite.
Volgens Le Roux kom veral boelievoorvalle onder kinders in gr. R en gr. 1 voor. Sy sê dit is ook die kinders wat die meeste afwesig is.
“Wat skoolverlating spesifiek betref, kan ons nie nou sê nie, want dit is nog ’n bietjie vroeg in die jaar. Die meeste kinders kom darem op ’n manier skool toe, hoewel party van hulle dikwels afwesig is, maar ons kan nog nie sê hulle is drop-outs nie.”
By navraag het Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), laat weet die departement het nie enige “ongewone veranderings” in leerders se gedrag opgemerk nie. Sy sê hulle is bly leerders is nou elke dag terug by die skool aangesien dit meer bestendigheid en roetine skep.
“Die WKOD het dienste aan skole beskikbaar gestel om met gedragsprobleme te help. Skole kan ons distrikskantore kontak vir beradingsondersteuning of intervensies indien nodig. Ouers kan ook ons WKOD-blitslyn by 080 045 4647 skakel indien hulle enige hulp nodig het.”
Hammond voeg verder by: “Iets waarvoor ons wel ’n beroep wil doen, is dat ouers hul kinders se aktiwiteite monitor en verseker dat hulle elke dag skool toe gaan. Dit is belangrik dat hulle verseker die kinders is by die skool – betyds en voorbereid”.
A worrying change is noted in the behaviour of certain learners since returning to school full time after almost two years of a rotational system.





