Die opgeknapte Suzuki Baleno het in Suid-Afrika geland – met ’n vars en fris voorkoms en ’n beginprys effens laer as voorheen.
Suzuki se klein Baleno, die groep se luikrug met die wakker verrigting en ’n plaaslike tweeling van die Toyota Starlet, het pas aangekom.
Die eerste opgeknapte Baleno’s behoort teen April van die produksielyn te rol, met Suid-Afrika se eerste modelle wat teen middel vanjaar hier behoort te wees. Indië, waar hy vervaardig word, is nes Suid-Afrika ’n regterstuurmark, wat beteken kopers sal nie lank hoef te wag soos met Europese linkerstuurmotors voordat hy hier opdaag nie.
Die Baleno is Suzuki se grootste luikrug in sy arsenaal en is toegerus met ’n gewillige 1,4-liter-enjin. Die goeie nuus is die opgeknapte model pronk nou met ’n 1.5-liter-enjin, wat natuurlik ook ’n handvol ekstra perde onder jou regtervoet gaan beteken.
Net plooie reggetrek?
Maar eers die voorkoms. Soos dit maar altyd met opknappings die geval is, het Suzuki se Indiese ontwerpers net hier en daar ’n verbetering aangebring. Die voorste buffer het ’n dieper, breër rooster, terwyl nuwe ligdiode-kopligte (LEDs) en ’n streep ligdiode-dagryligte ook hul verskyning op die hoeke maak.
Agter is die remligte heeltemal op die hoeke geplaas sodat die agteraansig ’n breër en platter voorkoms het. ’n Nuwe ontwerp vir die groter 16”-allooiwiele rond die prentjie af.
Mik en druk
Die twee afwerkingspakkette, GL en GLX, is net so behou, maar die lys standaardtoerusting is ietwat opgeknap.
Albei modelle kry nuwe bekleedsel vir die sitplekke, terwyl hulle nou ook ’n nuwe raakskerm in die instrumentpaneel het. Die deftiger GLX se skerm is ’n paar sentimeter groter. Saam met die skerm, wat jou radio in die intreemodel huisves, is twee USB-sokke (een voor, een agter) in die kajuit verpak.
Spoedbeheer en lugversorging is standaard, nes elektries beheerde vensters en leerbedekking vir die stuurwiel.
Al die Baleno’s het ook as standaard ABS-remme, opdraande-wegtrekhulp en ’n stabiliteitstelsel.
Benewens die groter raakskerm vir die deftiger GLX, het hy ook outomatiese koppeling met jou slimfoon se Android- Auto- of Apple CarPlay-funksies. Die GLX het ook ’n trukamera en kamerabeelde reg rondom die voertuig, wat parkering vergemaklik. Die nuwe model het ook windskermweerkaatsing wat die spoed laag op die voorruit projekteer.
Flukse kêreltjie
Soos genoem is die Baleno nou met die groep se frisser 1.5-liter-petrolenjin toegerus. Danksy die Baleno se inherente lae gewig (net 955 kg) is sy krag-tot-gewig-verhouding die beste in sy klas, sê Suzuki, en nou, danksy die frisser 1.5-liter, ook 30% beter as sy naaste mededingers.
Die vyftienhonderd lewer 77 kW en 138 Nm wringkrag, wat 9 kW en 8 Nm beter is as dié van die ou model. ’n Vyfganghandrat- en outomatiese viergang-ratkas is beskikbaar.
En hoeveel gaan hierdie ougat-ryding jou kos?. Baleno 1.5 GL – R225 900. Baleno 1.5 GL AT – R245 900. Baleno 1.5 GLX – R275 900. Baleno 1.5 GLX AT – R295 900
Dit sluit Suzuki se fabriekswaarborg van vyf jaar of 200 000 km asook ’n 4-jaar/60 000 km-diensplan in.





