Die Suid-Afrikaanse regering het in April 2018 in reaksie op ’n aanbeveling van die Wêreldgesondheidsorganisasie ’n belasting op suiker versoete drankies (SVD’s) – bekend as die gesondheidsbevorderingsheffing (GBH) – ingestel in ’n poging om landsburgers se suikerinname te verminder en vetsug in die land hok te slaan.

Of hierdie suikerbelasting alleen genoeg gaan wees om vetsug – wat as een van die risikofaktore vir nie-oordraagbare siektes (NOS’e) soos hartsiektes, beroerte, kanker en diabetes beskou word – te bekamp, moet nog gesien word.

Volgens ’n studie deur navorsers van die afdeling menslike voeding en die sentrum vir statistiese konsultasie aan die Universiteit Stellenbosch sluit skeptici wat nie oortuig is hiervan nie, geregistreerde dieetkundiges en sleutelrolspelers in die bedryf in.

Die navorsers het ’n meningspeiling onder dieetkundiges en sleutelrolspelers gedoen oor hul bewustheid van en die struikelblokke of fasiliteerders van die inwerkingstelling van die GBH.

Die bevindings van die studie het onlangs in die South African Journal of Clinical Nutrition verskyn.

Die navorsingsbevindinge dui daarop dat dieetkundiges en sleutelrolspelers van mening is dat die GBH nie voldoende is om ’n volhoubare uitwerking op die verlaging van NOS’s en vetsug te hê nie.

“Dieetkundiges en sleutelrolspelers was positief oor die GBH, hoewel die meerderheid saamgestem het dat die instelling van ’n suikerbelasting alleen nie ’n verskil sal maak nie omdat verskeie faktore tot NOS’e en vetsug bydra. Hulle meen die GBH van 11% is te min om ’n invloed op verbruikers se koopgedrag te hê.

“Dieetkundiges het sedert die implementering van die GBH wel ’n afname in die daaglikse aankope van SVD’s by hulle kliënte waargeneem, en dat hulle eerder suikervrye drankies en water koop.

Sommige dieetkundiges was bekommerd oor die feit dat suikerdrankies met ander voedselitems vervang is wat suiker bevat.”

Volgens die navorsers stem dit met ander studies ooreen wat aandui dat voedingsingrypings wat spesifieke voedsel of drankies teiken, tot nadelige kompenserende gedrag soos die verhoogde inname van alternatiewe kossoorte en drankies kan lei, wat net so ongesond is.

Die navorsers voeg by dat hoewel die meeste sleutelrolspelers saamstem dat die voedselbedryf die regering se rasionaal verstaan om die GBH te implementeer, hulle ook meen dat verbruikers nie bewus is van die suikerbelastingwetgewing nie.

“Verbruikers se gebrek aan kennis, asook hul aankoop van soet drankies uit gewoonte, word as sleutelhindernisse vir die suksesvolle implementering van die GBH beskou.”

Volgens die navorsers het dieetkundiges en sleutelrolspelers die belangrikheid daarvan beklemtoon om verbruikers oor die suikerbelastingwetgewing op te voed. Dit word ook as ’n sleutelfaktor beskou om die suksesvolle implementering van die GBH te versterk.

“Sommige dieetkundiges het bevestig dat hulle die GBH as ’n motiveringsinstrument gebruik om ’n afname in die verbruik van suiker bevattende drankies aan te moedig, terwyl ander hul kliënte geleer het om die voedingsinligtingstabel te lees met die klem op totale suikerinhoud en glisemiese koolhidrate en hoe om onderskrywingskentekens te verstaan.”

Die navorsers wys daarop dat die meeste dieetkundiges en sleutelrolspelers onseker was oor hoe die inkomste wat deur die GBH verkry word, aangewend word.

“Hulle was van mening dat die inkomste vir die behandeling en voorkoming van NOS’e en vir die bevordering van gesondheid geoormerk moet word ten einde verbruikers se vertroue te wen en verandering aan te help. Hulle glo egter die geld sal net die regering tot voordeel strek.”

Die navorsers sê albei groepe was ook bekommerd dat die suikerbelasting deur sommige verbruikers as ’n indringing beskou kan word en as onvanpas deur diegene wat nie die risiko loop om vetsug of NOS’e te ontwikkel nie.

Vir die pad vorentoe, vra die navorsers vir geïntegreerde intervensiestrategieë wat multisektorale betrokkenheid vereis om die verbruik van suikerdrankies te verminder en om vetsug op langtermyn te voorkom.

“Politici, die suikerversoete drankie-bedryf, verbruikers, opgeleide dieetkundiges en kundiges in openbare gesondheid kan almal ’n rol speel.”

. Bron: Yolande Smit, Zarina Ebrahim, Maritha Marais, Daan Nel & Nelene Koen (2023).

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article