Kaapstad se Suidoosterfees en Suidooster, kykNET se gewilde reeks, is soos familie wat dieselfde van deel. By vanjaar se 20ste fees is talle van dié sepie se sterre in verskillende produksies op die feesverhoog te sien.

In 2022 was Suidooster Stormsterk, ’n musiek- en dansproduksie, ’n wegholtreffer op die feesprogram, en in 2023 kom blaas Suidooster-akteurs die fees se verjaarsdagkerse uit met Suidooster Stormsterk 2.

Jawaahier Petersen, Irshaad Ally Eden Classens, Irvine van der Merwe, Natasha van der Merwe, Marco Spaumer en Simone Biscombe is op 29 April om 17:00 op die Artscape-verhoog vir dié spesiale geleentheid. Dié produksie geskied in samewerking met The Stage Performing Arts Studio van Durbanville.

Dean Smith, Suidooster se geliefde Wade, is op 29 April om 18:30 weer in Hallo, is Bettie wat praat, te sien. In dié komedie is Dean te sien in die skoene van die skreeusnaakse Aunty Bettie, wat op sosiale media beroemd en berug geraak het. Feesgangers kan op 28 April om 12:30 en op 29 April om 15:30 kom kyk wat die tante alles kwytraak as die mikrofoon in haar hand gedruk word.

Die talentvolle Dean, wat ook al ’n kykNET-Fiësta-[prys] ontvang het, is ook in die teaterproduksie Karatara te sien. Dié stuk is op die Knysna-ramp van Oktober 2018 geskoei toe ’n brand in die middel van die nag dele van die dorp in puin gelê het. Dit is by KKNK 2022 as die beste debuutproduksie aangewys en vir verskeie pryse benoem. Karatara is op 1 Mei om 16:00 by die Suidooster-fees op die planke.

Die Suidoosterfees duur van 26 April tot 1 Mei by Artscape en kaartjies is by Computicket te koop.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article