In ’n merkwaardige voorbeeld van student-geleide gemeenskapsbetrokkenheid, het Ashwill Dampies, ’n derdejaarstudent aan die Kaapse Skiereiland- Universiteit van Tegnologie (KSUT) die MOM-projek (Mind Over Matter) gevestig.
Hierdie inisiatief is spesifiek daarop gemik om gr. 8-leerders van die plaaslike hoërskool in Wellington te help om hul wiskunde-vaardighede te verbeter.
Die doelwit van die projek is om die leerders se selfvertroue in wiskunde te versterk en om die aantal leerders wat hierdie vak in graad 10 kies, te verhoog.
Aswhill is ’n oudleerder van die skool en is van mening dat hy wiskunde sou neem as hy net die nodige ondersteuning gehad het, en dít is wat hy nou aan gr. 8-leerders wil bied.
“Ons wil nie net die akademiese prestasie van graad agt-leerders verbeter nie, maar hulle ook aanmoedig om wiskunde as ’n kernvak in hul akademiese loopbaan te oorweeg,” sê Ashwill.
Die projek poog om leerders deur middel van geskeduleerde sessies op Maandae te help met spesifieke wiskundige konsepte wat hulle moeilik vind, terwyl hulle ook gesamentlike leerervarings bied, wat ’n gevoel van gemeenskap en ondersteuning bevorder.
Iets wat van hierdie inisiatief uitgelig kan word, is die feit dat dit volledig afhanklik is van vrywillige bydraes van studente en die ondersteuning van dosente aan die KSUT. Die projek ontvang geen amptelike finansiering nie, wat ’n uitdaging is. Ondanks hierdie beperkinge, bied die dosente en die universiteit waardevolle ondersteuning.
Sandra Swanepoel, ’n wiskunde-dosent aan die KSUT, vervul ’n belangrike rol deur saam met derdejaar-wiskundestudente te help om die leerders se behoeftes die hoof te bied. Sy sê dit is hartverskeurend om na die omstandighede te kyk waaruit baie van die leerders kom en dat finansiële ondersteuning sou help om die projek beter te bestuur.
Hoewel die projek waardevolle resultate lewer, is dit nie sonder sy uitdagings nie. Administratiewe en finansiële kwessies is voortdurende struikelblokke wat die vooruitgang beïnvloed. Die gebrek aan finansiering bring ’n gebrek aan formele hulpbronne, wat die proses van organisering en uitvoer bemoeilik.
Tog het skenkings in die vorm van geld en kospakkies om die leerders ná skool te voed, in die winter baie gehelp om die leerders verder te motiveer.
Ten spyte van die hindernisse, bly die betrokkenheid en toewyding van die studente en dosente ’n kritieke bron van motivering en hoop vir die sukses van die projek.
Ashwill het sy vreugde uitgespreek oor die positiewe terugvoer van die leerders en die voortgesette ondersteuning van die universiteit en die gemeenskap. Die projek is ’n leerskool – nie net vir die leerders nie, maar ook vir die studente. Dit leer hulle die waarde van samewerking ten spyte van verskille, deursettingsvermoë en die uitkoms wat bewerkstellig kan word as almal saamwerk. Die MOM-projek is ’n goeie voorbeeld van hoe studente en akademiese personeel saam kan werk om ’n positiewe invloed op die gemeenskap te hê.
Jamie Warne, ook ’n derdejaarstudent, is tans besig om met twee graad 12-leerders te werk ter voorbereiding van die September-wiskunde-eksamen. Weer eens is dit vrywillig en word sy ondersteun deur Swanepoel en van die derdejaarstudente in wiskunde.
Swanepoel sê sy is so trots om deel te wees van die projek aangesien dit absoluut studentgedrewe is. Sy voel partykeer soos ’n vyfde wiel aan die wa; só goed word die projek deur die studente bestuur.
Ashwill sluit af: “Let’s not just be problem identifiers, but problem solvers.”. Vir nader besonderhede, kontak Monique Frans by 076 012 9607 of stuur e-pos na 222063297@mycput.ac.za





