Dit is nie aldag dat ’n mens hoor van 20 matrikulante wat in een straat woon nie.
Toe dit onder die aandag van die inwoners van Runellistraat in Paarl-Oos kom dat dít die geval is, het hulle besluit om die seuns en meisies te bederf.
Christine Sias, wat al sowat 42 jaar in die einste straat woon, sê hulle het nooit gedink dat iets goeds uit die straat sou kom nie. Sy meen die straat was destyds bekend vir geweld, bendes en smokkelary. Hierdie groep matrikulante bring nuwe hoop vir hul bure – oud en jonk. Daar het eers 21 matrikulante in die straat gewoon, maar een van die graad 12-leerders het intussen verhuis.
Die afgelope Saterdag het inwoners van Runellistraat met die hulp van borge ’n dinee vir die jongspan in die gemeenskapsaal in Paarl gehou. Volgens Sias het hulle dit bloot uit trots en opgewondenheid gedoen.
“Ons is net dankbaar vir die kinders. Almal het gedink daar gaan niks goeds uit die straat kom nie. Ek het nog nooit gehoor van so baie matrikulante in een straat nie. Wat dit so mooi maak, is dat een van die matrikulante gekroon is as Mej. KNSS 2022 en dan het ons ook Mej. Global Ambassadeur in hierdie straat.
“Daai straat van ons was bekend vir geweld, en so kan ander strate wat sukkel met geweld na ons kyk om moed te skep en nie hoop op te gee nie. Destyds het ons nie dit gesien nie, maar met die hulp van die Here is alles moontlik.”
Die matrieks is by drie verskillende skole – Paulus Joubert Sekondêr, Klein Nederburg Senior Sekondêr en Noorder-Paarl Hoërskool. Drakenstein se uitvoerende burgemeester, Conrad Poole, het ook die geleentheid bygewoon.
“As burgemeester is die byeenkoms vir my baie spesiaal om te sien hoe die gemeenskap die dinee georganiseer het om hul omgee te toon met groot liefde en moeite. Dit bied die matrikulante die motivering om hul potensiaal te besef en so ook geleentheid te hê om vir ma en pa trots te maak, om te presteer en hul kanse op goeie geleenthede te verbeter,” sê Poole.
Danell Samson (19) het met trots gepronk met haar Mej. KNSS-serp by die dinee. “Die aand beteken ongelooflik baie vir ons aangesien nie almal van ons noodwendig ’n matriekafskeid kan bekostig nie. Ons waardeer wat Runellistraat se mense vir ons doen. Wat dit nog meer spesiaal maak, is dat ons almal hier teenwoordig mekaar ken – en die aand saam kan geniet.”
Denito Gabriels (17), Paulus Joubert Sekondêr se eerstespan-rugbykaptein, het ook ’n paar woorde gedeel. “Dit is vir ons ’n groot voorreg om te weet hoeveel mense ons ondersteun en hoeveel mense van Rusellistraat ons wil sien sukses behaal. Dit motiveer ons om vooruitstrewend te wees.”
Poole het ook die ouers en borge bedank vir die bydrae wat hulle gelewer het om die aand moontlik te maak.
Hy voeg by dat die geleentheid die leerders ’n bietjie ontspanning, genot en motivering bied te midde van die stres van hul matriekjaar.
“Ek is optimisties dat die leerders dit sal waardeer en die beste daarvan sal maak, en sal onthou – jy kan. Jy kan!”
. Residents of Runelli Street held a dinner last Saturday for 20 matriculants who live in this street.






