Ná ’n lang stryd om die 2022-’23-begroting se stortingstariewe aan te pas, het die Waste Management Association (WMA) en Drakenstein-munisipaliteit uiteindelik konsensus bereik.

Die WMA-voorsitter Allen Harris sê private kontrakteurs in die vullisbedryf kan weer asem skep nadat die “buitensporige stortingstariewe” by plaaslike stortingsterreine verlaag is.

“Ons is tevrede dat private kontrakteurs uiteindelik regverdig behandel word.”

Op sy beurt deel die uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, Gerald Esau, dié sentiment: “Drakenstein-munisipaliteit wil die WMA bedank vir hul positiewe bydrae tot en insette in die munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (Gop) en begrotingstariewe vir die 2022-’23-boekjaar.”

Esau sê dit kom nadat die voorgestelde tariewe met die WMA bespreek en deur die oorgrote meerderheid van die vereniging se lede ondersteun is.

Aangepaste tariewe toon ’n 33%-verlaging per ton van R649,30 tot R438 vir kontrakteurs binne die Drakenstein-omgewing wat algemene vullis, gekontamineerde tuinvullis en bourommel mag stort.

“Die munisipaliteit het onderneem om gereeld vergaderings met alle belangegroepe soos die WMA te hou. Ons volgende vergadering is vir 22 Junie vasgestel,” sê Esau.

Harris sê hy sien daarna uit om ander blywende kwessies op dié gereelde vergaderings finaal hok te slaan.

“Daar is onderneem om die volgende ses maande een keer per maand te vergader, en teenstrydighede soos ordonnansies en prosesse rakende jaarlikse permitaansoeke op te klaar.”

Esau sê hul hoop is om verder op dié verhouding met die WMA voort te bou.

“Ons het ’n goeie werksverhouding wat gekenmerk word deur wedersydse respek, vertroue, en vrye, openlike en eerlike kommunikasie.”

. The Waste Management Association and Drakenstein Municipality reached consensus surrounding dumping tariffs that were lowered to better accommodate private contractors in Drakenstein. Regular meetings will be held to solve other lingering issues between these public and private spheres.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article