Die skrywer Elsibe Loubser McGuffog (regs) het die eerste kopie van haar eerste kinderboek, Katja en die Kattesalon, aan Lindie Visagie van Procare op Wellington geskenk.Foto: Verskaf


Dis die storie van Katja wat uit die goedheid van haar hart ’n katjie wil borg. Om die nodige geld daarvoor in die hande te kry, besluit sy om ’n kattesalon te open. Ten spyte van haar goeie bedoelings loop dinge gou skeef, en ’n geweldige gekattemaai breek uit.

So som die Wellingtonner Elsibe Loubser McGuffog kortliks die storielyn agter haar eerste kinderboek, Katja se Kattesalon, op. Dis op voorlees en selflees gemik.

Dit word Saterdag 3 Junie om 10:00 by die Breytenbachsentrum op Wellington bekend gestel.

Dié kinderboek van 35 bladsye spreek ’n verskeidenheid onderwerpe aan: van katte (natuurlik!), entrepreneurskap en families tot gemeenskapslewe midde-in ’n middelklasbuurt en aanneming.

Loubser McGuffog het al studiemateriaal, tydskrifartikels, essays, gedigte en boekresensies geskryf, en was al ’n dosent in Engels en joernalistiek. Deesdae vryskut sy as tekspraktisyn en bied Engelse klasse aanlyn aan.

Sy het al oor die jare 12 katte gehad.

Oor die inspirasie agter haar eerste kinderverhaal vertel sy: “Ek wou eintlik ’n insident uit my eie jeug ‘reg’ skryf. Ek het self destyds ’n hond probeer red, en het my broer, Johan Schreuder, by die projek ingesleep. Die plan het nie so lekker gewerk nie, soveel so dat selfs die polisie opgedaag het!”

Verlede jaar het sy weer oor die voorval met haar broer gesels, waarna hy toe laat val het dat die situasie destyds vir hom ’n groot verleentheid was.

Die jaar 2022 het verdere inspirasie vir die boek opgelewer toe Loubser McGuffog ’n kat, wat eens die naam Havoc gehad het, via die Wellington Dierebeskermingsvereniging aangeneem het.

“Of altans, ek het ’n pêl van my oortuig om ’n kat-kind met my te deel!” verklap sy.

Die woorde het daarna begin vloei.

Loubser McGuffog is vol lof vir die manier waarop die Kaapse illustreerder Natasha Clayton se handewerk die storielyn versterk met sagte waterverf-illustrasies wat kleurvol maar nie te bont is nie.

“Sy is baie talentvol en haar interpretasie van menslike gedrag is baie raak. Plus, sy is dol oor troeteldiere!” vertel die skrywer.

Loubser McGuffog is tans besig met ’n kursus in die skryf van kinder- en jeugboeke onder leiding van dr. Mia Oosthuizen by die Breytenbachsentrum. Geïnspireerd het sy midde-in die kursus reeds waagmoedig haar katte-storie aan Naledi Uitgewers gestuur. Groot was haar blydskap toe sy die groen lig vir publikasie gekry het.

Naledi was ook in 2012 die uitgewer agter ’n bloemlesing getiteld Vi’ Adam Small. Dié is destyds by die Breytenbachsentrum van stapel gestuur, en daarom reken Loubser McGuffog dat dit net gepas is dat ook Katja se Kattesalon daar bekend gestel word.

Van haar gedigte en stories het ook al in Nuwe Stemme 2 (2001), Storie skryf is lekker (2014), Ons Klyntji en die Montagu Boekfees 2018 se bundel Sprankel verskyn.

Van haar kunswerke is ook reeds voorheen by die Sentrum uitgestal.

. Die boek word Saterdag 3 Junie om 10:00 by die Breytenbachsentrum op Wellington bekendgestel. Kaartjies kos R50, en sluit ligte versnaperings in.

. Om ’n boek teen R240 te bestel kontak Tertia Visser by tertia@naledi.co.za of 078 648 8616.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article