Inwoners van sowel Paarl as Wellington kla dat motoriste min gehoor gee aan die padreëls, veral as dit by stopstrate kom.
Paarl Post is in besit van verskeie videos wat wys hoe motors geensins by stopstrate stilhou nie. Party van hierdie voertuie wend nie eens ’n poging aan om by stopstrate briek te trap nie.
Brandpunte is by die vierrigting-T-aansluiting van Brugstraat en Hoofstraat in die Paarl en by die kruising van Berg-en-Dalstraat en Kerkstraat in Wellington.
Om dan nie eens te praat van die stiller strate in woonbuurte nie.
’n Inwoner van Berg-en-Dal in Wellington sê dit is lewensgevaarlik hoe motors teen ’n hoë spoed net eenvoudig, sonder om te aarsel, oor die stopstrate in Kerkstraat ry.
Die situasie is net so erg in die Paarl, wat basies ’n ongeluk is wat wag om te gebeur.
Die besorgde inwoner van Wellington voer aan dat hy al verskeie kere hierdie tendens by die verkeersowerhede aangemeld het, maar bitter min word daaraan gedoen, of hulle antwoord nie hul foon nie.
Volgens die Drakenstein-munisipaliteit gee hul verkeerstoepassingsafdeling gereeld aandag aan hierdie spesifieke (en ander) stopstrate in Wellington en die Paarl.
“Die Hoofstraat /Brugstraat-aansluiting in die Paarl is ’n verhewe interseksie wat spoed kalmeer, maar hieraan word ook gereeld aandag gegee.
“Daar sal egter voortgegaan word met stopstraat-observasies, soos wat mannekrag dit regverdig.”
Op die vraag of die aanbring van verkeersligte by die probleem-gebiede ’n oorweging is, sê die munisipaliteit nuwe verkeersligte word oorweeg aan die hand van ’n verkeersimpakstudie.
Indien ’n ondersoek toon dat die installasie van verkeersligte wel geregverdig is, moet die betrokke padowerheid vir die installasie daarvan begroot.
. Verkeersoortredings kan aangemeld word by die munisipaliteit se tolvrye nommer by 080 131 3553 of by die Kliëntedienssentrum by customercare@drakenstein.gov.za.
. More and more people are not stopping at stop signs in the valley, causing a grave concern as far as road safety is concerned.





