’n Inwoner het Paarl Post verlede week genader in die hoop dat hy sy bejaarde ma se probleem met vuil water voor haar woning kan oplos.
Elvin Simons vertel sy bejaarde ma en sy suster en haar kinders, wat in Chicago woon, sit met hul hande in die hare met vuil water wat in die straat voor hul huis verbyloop en op plekke opdam.
Simons verduidelik ’n gemeenskaplike kraan vir gebruik deur inwoners wat in informele wonings daar naby woon, is naby sy ma se huis geplaas. Die wegloopwater sypel nie net verby sy ma se huis nie, maar gaar daar op en veroorsaak ’n verskriklike stank.
Volgens hom het hy en sy ma die probleem reeds telkemale by die Drakenstein-munisipaliteit aangemeld asook by die raadslid vir daardie wyk, maar nog niks het daarvan gekom nie.
Hy sê hy het nie ’n probleem met die kraan wat vir die inwoners van die informele nedersetting opgerig is nie, maar dat die munisipaliteit versuim het om ’n drein by die kraan te plaas sodat water direk daarin kan wegloop.
“Die water staan dae lank in poele voor die informele wonings ook. Hierdie water word vuil en giftig namate dit na die naaste, of in hierdie geval, verste drein loop. My ma moet die kinders daar naby daagliks vra om hierdie gemors skoon te maak, anders raak die stank ondraaglik – veral in hierdie huidige hitte. Vir dit om te gebeur, moet my ma die kinders betaal om skoon te maak en boonop haar water gebruik, waarvoor sy moet betaal. So, stel jou nou voor dat dit al jare aangaan, en dit vir ’n vrou wie se enigste inkomste ’n Sassa-toelae is.”
Simons se suster bestuur ook ’n voedingskema van hul huis en die mense vir wie sy kos gee moet dan op die sypaadjie langs die vuil water staan.
Simons het bevestig werkers van die munisipaliteit het, nadat hy verlede week ook die munisipaliteit hieroor gekontak het, daar skoongemaak.
Hy vra egter vir ’n langtermyn-oplossing.
Volgens Marius Wüst, uitvoerende direkteur van ingenieursdienste, is die drein wat afvalwater na die rioolstelsel toe moet afvoer, geblok en sou die drein reeds Vrydag 28 Januarie skoongemaak word, maar werkers is glo gedreig toe hulle met die skoonmaakaksie wou begin.
“Ongelukkig, toe munisipale amptenare Vrydag opdaag om die drein skoon te maak, is hulle deur lede van die publiek met pangas gedreig en moes hulle hul uit die gebied onttrek.”
Oor die moontlikheid of ’n drein ’n opsie is om die probleem op te los of watter ander langtermyn-oplossing aan die klaer gebied kan word, het Wüst gesê: “Die langtermyn-oplossing sou wees dat die gemeenskap die dreine oop hou en dat die munisipaliteit die dreine gereeld in stand hou.”


