Die haglike reuk wat vroeër vandeesmaand by die krematorium in Dal Josafat ontstaan het, is uitgesorteer, maar inwoners van Paarl en Wellington hou vol dat die stink reuk nog elke dag oor dié dorpe hang.

Jo-Anne Otto, woordvoerder van die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit (KWDM), het voorheen aan Paarl Post gesê die stink reuke wat by die krematorium vrygestel is, is eers op 9 Januarie onder die aandag van die luggehalte-beampte van KWDM se gesondheidsdienste gebring.

Die luggehalte-beampte het onmiddellik ondersoek ingestel.

“Daar is vasgestel dat daar ’n voorval die aand van Saterdag 7 Januarie omstreeks 22:00 was. Daar is toe ook bevind dat die verbinding aan ’n termokoppel, wat die handhawing van optimum temperatuur verseker, foutief was. Die foutiewe verbinding het veroorsaak dat die primêre verassingslokaal afskakel, wat tot die vrylating van oormatige rook gelei het.”

Otto het verder bevestig dat die nodige herstelwerk gedoen is en dat die probleem opgelos is, maar inwoners hou vol dat hulle nog elke dag deur die reuk geteister word.

Anesca Roodt, ook ’n woordvoerder van KWDM, het intussen gesê dat die krematorium gemonitor word, en dat hulle in hierdie tydperk geen ander kwessies wat kommer wek, kon vind nie. Die ondersoek na moontlike ander bronne waar die reuk sou kon ontstaan, word steeds ondersoek.

  • The horrible smell that apparently originated at the crematorium in Dal Josaphat earlier this month has been sorted out, but residents of Paarl and Wellington insist that the stench still hangs over these towns every day.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article