Besoekers sal die skitterende sterrehemel – spesifiek die sprankelende Orion – van nader kan leer ken by die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se eerste sterrekykpiekniek vir die jaar op Paarlberg op Saterdag 14 Januarie.
Dit beloof om ’n feestelike aand in die beeldskone omgewing te wees; boonop is ’n pragtige sonsondergang en ’n gratis besoek aan die ikoniese beeldhouwerk ingesluit, én is die aand ten bate van ’n goeie saak.
Gaste sal die heelal verken met behulp van Orion Observasie Groep (OOG) se lede wat graag hul kennis en teleskope gratis deel. Die fokus is op die groot Orionnewel, ’n emissie-newel (ruimtestof, waterstof, helium en ander geïoniseerde gasse) waarvan die middelpunt soos ’n vlinder lyk. Dit is suid van die sterrebeeld en is maklik met die blote oog sigbaar as ’n dowwe witterige kol in die middel van Orion se gordel.
Die pieknieks is gewild onder plaaslike inwoners en oorsese besoekers wat veral die mooie vergesigte van die valleie, berge en skiereiland geniet. Besoekers is welkom om hul eie pieknieks en drankies (geen glas) te bring of vooraf ’n piekniekmandjie by Die Suikerkan via 082 216 2510/082 856 1871 of info@diesuikerkan.co.za te bestel – hierdie koffiewinkel sal ook verversings tydens die geleentheid verkoop. Gaste word aangemoedig om die omgewing te verken en die monument, ’n simboolbelaaide beeldhouwerk sonder weerga, te besigtig. ’n Gratis begeleide toer om dit alles te verduidelik vind om 18:30 plaas. Daar is buitelug-speletjies en speelparke vir die kinders. Onthou asseblief verkykers en warm klere. Genoeg veilige parkering is gratis beskikbaar.
Die piekniekreeks word aangebied ten bate van Laat ons Lees!, die Taalmonument se geletterdheidsprojek vir kinders, derhalwe word piekniekgangers gevra om nuwe of tweedehandse kinderboeke te skenk.
Die geleentheid begin om 18:00 waarna besoekers van 20:00 tot 22:30 deur die teleskope na die hemelruim kan tuur. Die toegangsprys is R50 per volwassene en R15 vir onder-18’s; kaartjies is by Computicket of die hek beskikbaar. Bespreking by bemarking2@taalmuseum.co.za of 021 863 0543/4809 is noodsaaklik sodat daar vir genoeg teleskope voorsiening gemaak kan word. Sterrekykpieknieks sal gekanselleer word indien die weer nie saamspeel nie – skakel 073 853 3100 of 083 544 6510 vir weernavrae op die dag self. Vooraf gekoopte kaartjies kan oorgedra of vergoed word. Die volgende Sterrekykpieknieks is op 11 Februarie en 11 Maart.
. Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook.




